’n Tienjarige met Aspergersindroom het ’n roerende gedig geskryf wat ’n mens ’n seldsame blik gee op die wêreld van iemand wat met dié toestand saamleef.

Benjamin Giroux het die gedig in die skool geskryf nadat sy onderwyser hom die eerste twee woorde van elke sin gegee het, byvoorbeeld: “Ek is . . .” “Ek wonder . . .” en “Ek sien . . .” Hy moes dit toe voltooi.

Die resultaat is die ongelooflikste skryfwerk wat ’n mens werklik insig gee in wat die seun elke dag deurmaak.

Hy skryf onder meer: “Ek is vreemd. Ek is nuut. Ek verbeel my, jy is ook.

“Ek voel soos ’n seun in die ruimte. Ek raak aan die sterre en voel ontuis.”

Apserger-sindroom is ’n vorm van outisme.

[caption id="attachment_123124" align="alignnone" width="605"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Benjamin se pa, Sonny, het aan Huffington Post gesê die brief het hom en sy vrou in trane gehad toe hulle dit die eerste keer lees. “Ons is trots en tog ook so hartseer dat hy so voel.”

Lees ook: Parkinsons: Die siekte wat gewoonlik met ’n bewerige hand begin en talle onkant vang

Dit is Sondag op die National Autism Association (van Amerika) se Facebook-blad gedeel en amper 15 000 mense het reeds geklik om te wys hulle hou van die brief.

Sarah Miletic het kommentaar gelewer en geskryf: “Pragtige en roerende woorde, Benjamin. Dit het trane na my oë gebring omdat ek weet dat my liewe seun elke dag dié emosies en gevoelens ervaar.”

Sonny sê hulle het die brief met mense gedeel omdat hulle wil hê ouers met kinders wat ook outisme het, moet sien hoe hulle kinders voel.

Sandy Uswald, nasionale direkteur van Outisme Suid-Afrika, sê ’n mens kry kinders met die sindroom wat hulself goed met die geskrewe woord kan uitdruk, maar outisme het so ’n wye spektrum dat jy ook dié kry wat nooit sal kan skryf nie.

“Ek sien deesdae baie kinders met outisme wat deur tegnologie aangetrek word.

Lees ook: Risiko vir outisme hoër onder kinders met ouer ouers

Die rede daarvoor is dat tegnologie voorspelbaar is.

Jy druk ’n knoppie en jy weet wat dit gaan doen. Mense is dikwels onvoorspelbaar en angswekkend vir kinders met outisme.

“Tegnologie laat hulle veilig voel en dit help kinders dikwels om kreatief te wees.”

Sy raai ouers met kinders wat outisme het, aan om kenners te nader wat hulle kan help om geskikte rekenaarprogramme en tegnologie te bekom wat hul kind kan help om homself uit te druk.

“Ons verstaan nie aldag die wêreld waarin die kinders hulle bevind nie.”

Juis omdat dié toestand soveel gedaantes aanneem, hoor Sandy dikwels: “Outisme is die een ding wat ons leer dat ons mense nie in boksies kan prop nie.”

Ander stories op Huisgenoot.com:

Die Here is groot, sê Hayley se ouers nadat haar toestand verbeter

Bure slaags ná een ander se kietsie in strik vang

Deadpool se Ryan Reynolds en sy mooie vrou, Blake Lively, deel groot nuus

Cruz Beckham volg al singend in ma Victoria se voetspore

Ratse sjimpansee ‘cha-cha’ op kragdrade ná sy ontsnapping