Die seun se ouers, ’n 36-jarige man en sy vrou, word daarvan beskuldig dat hulle hul vyf kinders etlike jare lank mishandel het. Verkragting en poging tot moord tel ook onder die klagtes. Die getuie, ’n sekuriteitsbeampte wat op die erf van die sogenaamde Huis van Gruwels gewoon het, het Donderdag getuig hoe hy die seun vasgebind aan ’n kombuiskas gevind het terwyl die seun se ouers vir die naweek weg was.

Lees ook: Hof hoor van smerige kombuis, pornografie en rotte in Springs se ‘Huis van Gruwels’ Hy het getuig dat ’n tweede persoon, wat ook in daardie stadium in die huis self gewoon het, hom gevra het om die seun te help. Dié persoon is intussen oorlede. Die getuie het glo die sleutels van sy eie boeie gebruik om die boeie om die seun se gewrigte oop te sluit. Dit het op ’n Vrydag gebeur. Sy ouers het Sondag eers weer teruggekeer.
Die getuie het ook aan die hof vertel hy het gesien hoe die seun se pa hom met die vuis in die gesig bydam. Die seun was toe 11 jaar oud. Hy het ook getuig dat hy die ander vier kinders selde buite die huis gesien het. Hy het tydens sy getuienis wel genoem hy het soms beserings aan die vrou se gesig en lyf gesien. Adv. Anneke van Wyk, vir die beskuldigde, het gesê dat die seun homself gereeld geboei het en in staat was om die boeie self oop te sluit.
Terwyl die getuie aandui dat hy nie geweet het hoekom die seun aan die kombuiskas geboei was nie, noem die verdediging vir die vrou, adv. Louiza van der Walt, die seun was glo vasgebind omdat hy stout was. Sy ma beweer ook dit was die seun se pa wat hom vasgebind het.
Die sogenaamde Springs-monster het ook vandag aangedui hy gaan nie self getuig nie.

Bronne: jacarandafm.com, twitter.com

Die saak sal Maandag 7 November voortgesit word.