Die ouers van ’n 15-jarige seun wat onthoof is, het Dinsdag die toneel besoek waar hul seun se lyk gevind is.

“Hulle is baie getraumatiseer. Dit was vir hulle ’n traumatiese dag,” het kapt. Nqobile Gwala, ’n polisiewoordvoerder, aan Huisgenoot gesê.

Vier verdagtes is in aanhouding ná die 15-jarige seun se grusame moord. ’n Lid van die publiek het Dinsdagoggend net ná sesuur die seun se kop naby die Embizeni Skool in Umlazi, KwaZulu-Natal, gevind.

Nadat die polisie ontbied is, is die seun se liggaam ’n ent verder gevind, het Nqobile in ’n verklaring gesê.

Die seun se lyk het ’n skietwond gehad.

Die polisiebeamptes wat saam met die Umlazi-misdaadintelligensie-eenheid en die honde-eenheid gewerk het, het Dinsdag twee verdagtes by ’n huis in Umlazi in hegtenis geneem. Die verdagtes, wat onderskeidelik 18 en 19 jaar oud is, het ook ongelisensieerde vuurwapens by hulle gehad.

Nqobile het Woensdagoggend bevestig nog twee verdagtes, wat ook 18 en 19 jaar oud is, is later in hegtenis geneem.

Die vier verdagtes sal na verwagting binnekort in die Umlazi-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

Die seun is glo net ná middernag deur die verdagtes weggeneem van die huis waar hy gewoon het.

Nqobile het aan Huisgenoot gesê die polisie weet nie waarom die verdagtes die seun onthoof het nie.

“Die motief vir die moord is nog onbekend, hangende ons ondersoek,” het sy aan Huisgenoot gesê.