Die 16-jarige Natalie Finn van Des Moines in Iowa word as ’n “vriendelike, borrelende, pragtige mens” beskryf. Maar op 24 Oktober het die tiener weens uithongering en ’n gebrek aan kritieke mediese sorg gesterf. Op 8 November is twee mense vir haar dood aangekla: haar ouers, Nicole Marie Finn (42) en Joseph Michael Finn II (45). Alhoewel die paartjie in 2011 geskei is, het hulle toesig oor hul kinders gedeel en ’n toelae daarvoor ontvang.

Wat sedertien onthul is, klink soos ’n rillerverhaal van onmeetbare wreedheid. Natalie se uitgehongerde toestand het tot ’n hartaanval gelei. Sy is opgeneem in die hospitaal, waar sy later oorlede is. Nicole en Joseph word albei van die volgende aangekla: drie aanklagte van ontvoering, drie van die blootstelling van kinders aan gevaar wat tot ernstige beserings gelei het en drie van die verwaarlosing van ’n afhanklike.

Natalie is gemartel en gereeld van kos, klere en basiese mediese sorg ontneem. Sy was egter nie die enigste slagoffer nie. Twee van haar sibbes, ’n 14-jarige meisie en ’n 15-jarige seun, is in die geheim saam met haar in ’n klein baksteenhuis in Des Moines aangehou.

Al drie het luidens berigte óf ’n geestesgesondheidsprobleem of fisieke gebrek, maar Natalie het haar glo as die “beskermer” van die jongeres gesien.

Volgens Becca Gordon, wie se seun vriende was met Natalie, sou sy gereeld kos vra vir haar en haar sibbes. Wat Becca ook bekommer het, was dat Natalie glo dae aaneen dieselfde klere sou dra en nie baie skoon geruik het nie.

Ander bure vertel hoe hulle Natalie gehelp het met plakkies, geld en kos. “Dit lyk of sy net mense om hulp genader het wat sy gedink het sy kan vertrou,” het Leah Mirels, ’n buurvrou, vertel.

“Sy het net die vriendelikste, borrelende, pragtige persoonlikheid gehad. Sy was net wonderlik. Wat ’n vermorsing,” het Becca gesê.

Bure het glo reeds vyf maande voor Natalie se dood die kwynende kinders onder die polisie se aandag gebring, maar dit is nooit verder opgevolg nie.

Nicole en Joseph het nog twee ander kinders, onderskeidelik 15 en 22 jaar oud. Hulle verskyn egter nie op die lys van klaers nie.

Bronne: wtoc.com, nydailynews.com, desmoineregister.com