Michelle Pfeiffer voel namate sy ouer word, neem die druk af om pal volmaak te lyk.

Die 55-jarige aktrise, wat al twee keer die mooiste vrou ter wêreld aangewys is, lyk graag goed, maar sê sy skrik nie vir ouer word nie.

Die Stardust-ster sê in die Oktober-uitgawe van die Ladies Home Journal: “Sodra ’n mens ’n sekere bult oorgesteek het, is daar minder druk. Jy kan begin goed lyk vir jou ouderdom; jy hoef nie meer jonk te lyk nie.

“Ek is nou daaroor. Ek is 55, wat ’n bietjie naby aan 60 is, maar dis genoeg dat ek goed kan lyk vir my ouderdom.”

Maar Michelle erken dat sy nie altyd van haar voorkoms gehou het nie.

Sy het gesê: “Om op ’n reuse rolprentskerm te sien hoe jy ouer word is onnatuurlik. Dit kan jou gemoedstoestand kelder.”

Die aktrise, wat die kinders Claudia en John het by haar TV-skrywer-man, David E. Kelley, sê haar streng vegetariese dieet hou haar slank.

Sy sê: “Ek was nie altyd gesond nie. In my 20’s het ek twee pakkies sigarette per dag gerook. Ek het op Marlboro Lights en Coca-Cola geleef.”

Die blonde skoonheid hoop sy kan haar Hollywood-loopbaan weer skop gee met haar nuwe rolprent, The Family, ná ’n blaaskans om haar kinders in San Francisco groot te maak.

Sy vertel dat sy ten spyte van haar reuse sukses steeds bang is vir mislukking. “Ek dink nog ek gaan in die eerste week van elke nuwe werk afgedank word. Altyd. Trouens, selfs voor ek met ’n rolprent begin, probeer ek myself afgedank kry of ek dink aan ’n rede waarom ek dit nie hoef te doen nie. Ek is seker maar net bang ek misluk.”