Oudpres. Nelson Mandela is bewus van wat om hom aangaan, maar sy toestand is steeds kritiek, het die Anglikaanse biskop Joe Seoka Woensdag gesê.

Seoka, die hoof van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, het buite die Mediclinic-Harthospitaal in Pretoria, waar die verswakte voormalige staatsman behandel word, gesê Mandela se vrou, Graça Machel, het dit vir hom gesê.

Die biskop was een van ’n groep godsdienstige leiers van die SA Raad van Kerke wat vir Mandela gebid en sy familie bedien het. Hulle het nie Mandela se hospitaalkamer binnegegaan nie. “Ons het hom nie gesien nie,” het Seoka gesê. “Ons het in die besoekerskamer gebid.”

Op ’n vraag of Mandela binnekort ontslaan sal word, het Seoka gesê hy het geen inligting daaroor nie.

Mandela is op 8 Junie weens ’n terugkerende longinfeksie in die hospitaal opgeneem.

– Sapa

sapalogo