Maar Petrus Kühne (64), ’n voormalige NG predikant, probeer nou op die vooraand van haar gedenkdiens tot verhaal kom oor hoekom sy geliefde Tersia die middag veilig in Universitas, Bloemfontein, tuisgekom het, net om ure later tragies in ’n motorongeluk te sterf.

“Ek skryf nou haar afskeidsbrief. Dit is my manier om die pyn uit te skryf,” vertel Petrus huilend in ’n telefoniese onderhoud met Huisgenoot. “Dit is sad; sy het nog soveel planne gehad,” vertel hy.

Tersia het die pot aan die kook gehou nadat hy in 2015 uit die bediening bedank het, hoofsaaklik omdat hul oudste seun, Tersius (34), gay is en hy hom nie meer met die NG kerk kon vereenselwig nie.

Tersia, wat assistent-direkteur by die departement van erkenning van voorafleer aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) was, het geleef vir haar werk en sy wou nog baie verrig voor sy oor twee jaar aftree.

Niks maak nog sin nie, sê Petrus.

“Die waarheid is ons weet nie, dalk sal ons nooit antwoorde hê nie,” sê hy oor hoekom sy vrou ná wat ’n lang, uitmergelende reis van Gauteng moes gewees het, by die huis gekom het, net om weer verby Bloemfontein in ’n suidelike rigting weg te ry.

Sy het vermoedelik op pad terug naby Tierpoort, sowat 30 km van Bloemfontein, in ’n veld beland – haar motor ’n onherkenbare wrak. Petrus vertel Tersia het die laaste 15 jaar aan die ongeneeslike en aftakelende siekte fibromialgie gely, wat deur spier- en skeletpyn gekenmerk word. Sy het heeltyd pyn verduur.

Petrus, wat gereeld op Facebook teenoor sy vriende sy hart oopmaak het, het die middag voor sy vrou se dood nog aangrypend aan sy vrou van 36 jaar geskryf om ná die kuier by Tersius, ’n IT-programmeerder, veilig by die huis te kom:

Liefste Tersia,

Ek hoop om nou-nou die Peugeot te hoor. Die honde sal my eerste vertel dat jy hier is.

My lief, jy weet mos dat ek baie kere so terg oor die kurwe van die vlees, en dat ons manne dit meer waardeer as die warm van die gees?

Wel, ek weet darem dat lank nadat die kurwes van die vlees toegegee het aan gravitasie en ander magte, soos tyd en rimpel, die warm van die gees al is wat oorbly.

En o, my vrou, jou gees het deur die jare net warmer geword. Ryper. Volryp. Vervullend.

Daarom, ry tog veilig! Konsentreer die laaste paar kilometer. Ek het soveel om te vertel oor die Oos-Kaap en Durban en my week daar.

As dit waar is dat jou hart by jou skat is, lief, dan is my hart nou iewers op die N1 op pad na Bloemfontein.

Bring my hart asseblief veilig tot hier.

Maar, sê Petrus, sy vrou se hart is nou in ’n kis.

“Ons het lekker gesels oor die elektriese drukkoker wat ek gekoop het. Sy het net gesê sy gaan gou vir ons hot cross buns kry.” Hy wou nog vertel van die reis wat hy saam met hul jonger seun, Markus (28), onderneem het, wat pas sy honneursgraad in Afrika-studie voltooi het. Hulle het ’n wit sangoma besoek, wat hy bestudeer.

Die gesprek oor hul ervarings het egter nooit gebeur nie. Kapt. Chaka Marope, plaaslike polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Huisgenoot bevestig Tersia se Peugeot 307 het naby Tierpoort omgeslaan. Sy is uit die voertuig geslinger en is vermoedelik op slag dood.

Petrus het sy vrou net ná drieuur die oggend as vermis aangemeld, maar die polisie het hom skuins ná agtuur van die ongeluk ingelig. Hy het dadelik gevra of sy vrou dood is. Petrus het uitgevind die ongeluk het reeds omstreeks agtuur die vorige aand plaasgevind. Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.

Hy sou eers later onthou sy vrou het met haar tuiskoms nie heeltemal “lekker” gelyk nie. “Sy het ’n bietjie down en gespanne gelyk, dalk oor die week se werk wat voorgelê het, maar sy het niks gesê nie.”

Al was sy siek, het sy nooit gekla nie, vertel hy. Pleks daarvan was sy almal se steunpilaar. Hy vertel Tersia het talle mense se lewe verander. Sy sou as deel van haar werk motiveer hoekom iemand wat dalk nooit die punte in matriek behaal het om te kon studeer nie, nou ná jare se ervaring en kursusse en sertifikate in die werkplek kan kwalifiseer om hul drome waar te maak en ’n student aan die UV te word.

Maar by die huis wou hy vir Tersia sorg en vir haar kook.

“Alles wat ek ooit gedoen het, was vir Tersia. Ek was die kok in die huis. Ek sou eenpotgeregte en kerries maak. Ek dink ek sal nog lank hartseer wees wanneer ek daardie pot gebruik.”

Hy vertel aangesien hy nie meer gelowig is nie, plaas hy nou sy hoop op sy eie innerlike krag en in die mense wat hom steun.

En hulle, vertel hy, sal hom staande hou wanneer hulle Donderdagoggend om tienuur by Leopard en Lace in die stad vir Tersia, wat veras sal word, ’n herinneringsdiens hou.