Sy is nou wel nog jonk, maar sy weet hoe om te kook. Vandeesweek het Khumo Twala (19) ’n uitdunningsuitdaging oorleef wat die meeste van ons se broeke sou laat bewe. Een van Suid-Afrika se beste sjefs, David Higgs van die vooraanstaande Johannesburgse restaurant Five Hundred by die Saxon-hotel, het die uitdaging uitgedink. Dit het ’n baie ingewikkelde nagereg gemaak van droplekkers en lietsjie behels.

“Daar is ’n lietsjie-sorbet,” het David verduidelik, “en dan ’n droplekker-makrolletjie. Dan is daar lietsjie-panna cotta. En ten laaste ’n titseltjie drop op die bord en ’n swartbrood-krummeltert.”

Hierdie nagereg het gemaak dat Herman en Mary hul voorskote moes ophang en die kombuis moes verlaat. Maar die jong Khumo staan nog sterk. Ons het haar ’n paar vrae oor haar reis tot dusver gevra.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy is ’n MasterChef SA-deelnemer?

Ek was geskok, verlig, opgewonde en senuagtig. Die belangrikste van als was dat ek trots op myself was. Ek kon dit eenvoudig net nie glo nie; dit was soos ’n droom. Ek het geweet ek is lief vir kook, maar het nooit gedink ek sou uit al die duisende inskrywings gekies word nie.

Hoe voel dit om die jongste deelnemer te wees?

Dis ’n uitdaging. Mense is geneig om my te onderskat weens my ouderdom en ek vind dit baie frustrerend. Ek glo ek het nou al genoeg verrig om te bewys my ouderdom het niks daarmee te make nie. Talent is ’n gawe en ek is geseën met hierdie wonderlike gawe. Ek wens soms mense konsentreer nie op my ouderdom nie, maar eerder op wat werklik van belang is: die kos.

Aan die ander kant, ek kom dikwels in aanraking met jong meisies wat vertel hulle wil net soos ek wees. Dit het  ek glad nie verwag nie. Omdat ek nog so jonk is, is ek self nog besig om te probeer agterkom wie ek is. Om te weet dat ek ander inspireer, is ongelooflik.

Hoe is die dinamika tussen die deelnemers?

Ons is 16 verskillende mense met verskillende lewens, agtergronde en stories. Maar wanneer ons saam is, is ons een groot familie. Partykeer plaas God ons in situasies, maar nie vir die redes wat ons mag dink nie. Partykeer voel ek dat ek miskien net moes deelneem sodat ek 15 nuwe vriende kon maak. Maak nie saak wat die uiteinde is nie, ons sal goeie vriende bly. Ek is mal oor hulle!

Wat was tot dusver jou gunsteling-uitdaging?

Ek dink die strestoets met David Higgs was my gunsteling. Dit het my tot ’n uiterste gedryf wat ek nie gedink het ek kon bereik nie. Daardie gereg was so intimiderend, ek was letterlik bang daarvoor. Die resultaat wat ek daardie dag bereik het, was presies wat ek nodig gehad het om my selfvertroue ’n hupstoot te gee. Ek het nog altyd aan myself getwyfel, maar as iemand soos sjef David Higgs sê jy is ’n goeie kok, is dit iets wat jy nooit sal vergeet nie. Dis iets wat ek ná die kompetisie saam met my sal neem en altyd sal onthou. Ek is so geëerd.

Wie is jou gunsteling-beoordelaar en hoekom? Beslis Pete Goffe-Wood! Wat kookstyl betref, hou ek van wat hy met sy kos doen en sy keuse van bestanddele is uitstekend. Ek het ook gevoel hy het ons die meeste aangemoedig. Mense sien hom op televisie en dink hy is ongeskik. Ek het egter nog altyd gevoel sy kritiek is opbouend.

Hoe laat kos maak jou voel?

Dit maak my gelukkig en hou my kalm. Wanneer ek kook, verdwyn ek in hierdie sone waar ek een met die kos is. Ek is mal daaroor. Die beste vir my is wanneer ek terugkom van die skool of werk en ek maak ’n fantastiese maaltyd en al my probleme verdwyn soos mis voor die son. ’n Heerlike warm maaltyd gevolg deur ’n dekadente nagereg. Hoe kan ’n mens dan nou nie gelukkig voel nie?

Jy was op hoërskool in Aboe Dhabi, waar jou ma woon en werk. Hoe was dit om daar skool te gaan en hoe was die kos?

My ma, Lebo, is al sedert 2001 in die Midde-Ooste. Toe ek 13 jaar oud word, het ons albei besluit dit sal goed wees vir my om in Aboe Dhabi te gaan bly. Ek het vriende gemaak met mense van alle uithoeke van die wêreld: Suid-Amerika, Asië – noem maar op. Dis toe dat ek begin eksperimenteer het met verskillende kos en koskulture. Terwyl ek daar was, was my gunsteling-kos Thaise groenkerrie (van ’n winkelsentrum in die pad af), shawarma, falafel, lamtjops van ’n restaurant onder in die gebou waar ek gewoon het en ’n Filippynse brood, pandesal, en dan natuurlik seekos, wat my gunsteling is van ’n restaurant met die naam van The Fish Market.

Wat het jy by jou ouma oor kos geleer?

Ek het grootgeword met ’n wonderlike ouma, Aletta, en sy was mal daaroor om ons almal met kos te bederf. Sy was ’n baie goeie kok. Toe ek klein was, het ek nooit die moeite gedoen om by haar te leer kook nie, ek wou net eet! Deesdae is ek spyt daaroor.

Haar gesondheid het agteruitgegaan. Teen die tyd dat ek lief begin raak het vir kook, was sy te siek om my touwys te maak. Ek is dankbaar vir die herinneringe wat ek wel het, want ek kan darem nou probeer om van haar gewildste resepte te herskep. Die laaste maaltyd wat ons saam gehad het, was die aand voor ek vertrek het om aan MasterChef Kitchen deel te neem. Sy het ongelukkig kort daarna baie siek geraak en is dood. Sy is dalk nie fisiek hier nie, maar ek weet haar siel is in die kombuis. O . . . en dan moet ek ook noem dat my oupa fantastiese sampmielies kon maak.

Wat is jou grootste droom?

Dis my droom om eendag my “kosheld”, die sjef Gordon Ramsay, te ontmoet en om my eie restaurant te besit. Ek voel ek is goed op pad daarna om my drome te bewaarheid en ek bid dat God my sal lei op die pad wat Hy vir my geskep het.

Deur Loren Pienaar