Theunis het ook voorheen in die gewilde M-Net-sepie Egoli gespeel en was ook 'n aanbieder op Pasella.

’n Bakkie het by die Garsfontein-afrit in Pretoria agter teen sy motorfiets vasgery. Sy regterarm moes noodgedwonge Dinsdag in die vroeë oggendure geamputeer word.

“Daar was geen ander keuse as om sy arm te verwyder nie. Dit was of sy arm red of sy lewe. Dis vir ons almal bitter sleg,” het Anria van Heerden, sy mede-aanbieder op Woema, aan Netwerk24 gesê.

“Ons ly nog almal aan skok. Die kinders is ook ingelig dat hul pappa in die hospitaal is en sy arm verloor het,” voeg sy by.

Theunis is tans in ’n kritieke toestand in Unitas-hospitaal in Pretoria.

Sy vrou, Mareli, kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.

Bronne: Netwerk24, Maroela Media, Facebook, Twitter