Hendry Olivier, wat verlede jaar onder die topvyf geëindig het en nou hoofsjef van The Olive Branch op Prins Albert is, en Toitnette du Toit, wat in die pylvak in die topdrie vasgeval het en nou haar eie deli, Rooi Kombuis, op Barrydale bestuur, vertel ons hoe hulle agter die kameras beland het, wat hulle van vanjaar se deelnemers dink en wie hul gunstelinge is.

Julle was verlede jaar voor die kameras, nou is julle daaragter. Hoe het julle daar beland?

  • Hendry: Ons het verlede jaar baie vriende op die stel gemaak en kontak met almal agter die skerms behou. Die vervaardigers het my en Toitnette genader en gevra of ons bereid sal wees om hand by te sit op die stel van die tweede seisoen. Ons het voor die kameras nooit kans gehad om te sien wat daaragter gebeur nie; daarom het ons die geleentheid onmiddellik aangegryp. Nou is ons glad nie spyt nie. Ek en Toitnette het ’n goeie span gemaak en dit was vir ons regtig lekker.

Wat presies het julle gedoen?

  • Toitnette: Ons het veral seker gemaak die spens is vol produkte vir die deelnemers. Ons het ook gehelp om die beoordelaars se geregte vir die demonstrasie (aan die begin van elke episode) te berei. Baiekeer het die deelnemers in die stoor gekook, maar die uitdaging is elders; in ’n veld of ’n gastehuis. Die kos wat hulle berei, moes natuurlik geskuif word, en daarmee het ons ook gehelp.

Was die druk agter die kameras minder as voor die kameras?

  • Hendry: Ja, beslis. Daar was nie druk nie. Jy werk op jou eie tyd en op jou manier.
  • Toitnette: Ja, ons kon agter die kameras voorberei en het geweet watter uitdagings kom. Daar is ook geen wedywering agter die skerms nie. Ons moes net seker maak dat die deelnemers gelukkig is – en dit was maklik. Om voor die kameras te wees is baie erger, want daar’s druk om te wen.

Wat dink julle van vanjaar se Kokkedore?

  • Hendry: Hulle is baie... rooskleurig... maar in die geheel baie, baie mededingender as wat ons was. Hulle is meer gefokus, hulle praat nie baie met mekaar nie, hulle sal nie grappies met mekaar maak nie . . . Om die een of ander rede was ons groep gemakliker.
  • Toitnette: Ja, in ons groep was daar werklik ’n kameraderie – ons het die ondervinding geniet, dit was lekker, en om te wen was waarlik ’n bonus, maar vanjaar se deelnemers is baie meer toegespits op die kompetisie. Hulle is ongelooflik stil; ons was baie lawaaieriger. Dis met groot uitdagings so stil dat jy amper ’n speld kan hoor val – en dis omdat hulle elkeen regtig wil wen.

Hoe ver dink julle sou julle kom as julle in die huidige reeks sou deelneem?

  • Hendry: Ek dink ek sou redelik beter gevaar het. Ek was verlede jaar baie onseker oor hoe ver ek dit sou maak, maar ek het nou baie meer selfvertroue in my kookvernuf.
  • Toitnette: Ek sou waarskynlik in die tweede seisoen al in die tweede week huis toe gegaan het. (Lag.) Daar is ’n hele paar uitdagings wat nog kom, wat ek bly is ons vrygespring het.

Watter deelnemers beïndruk julle die meeste en hoekom?

  • Hendry: Chris. Hy weet wat hy doen en is ’n groot perfeksionis. Orscilla beïndruk my ook. Ons is eintlik baie dieselfde: stil, het baie kaarte om te speel en doen altyd die beste wat ons kan.
  • Toitnette: Chris staan ook vir my uit. Hy kook uit sy hart en weet ontsettend baie van kos. Elsa se kennis en liefde vir kos is ook vir my fenomenaal.

– Christiaan Boonzaier