Meer as 46 jaar nadat Johannes Arnoldus (Lofty) Nel vir die Bokke uitgedraf het, word hy nog deur oudjoernalis André Brink van Huisgenoot onthou as “een van die tawwes”.

In 1999 het Phil Zaayman van Rapport met hom gesels oor daardie “skok-keuse” van 1970. Hy was toe reeds vyf jaar lank nie aktief op die internasionale speelveld nie en het in daardie stadium vir Wes-Transvaal gespeel. Hy was ook 35 jaar oud.

Toe hy en Mof Myburgh (toe 34) in 1970 vir die laaste toets teen die gedugte All Blacks gekies word, is daar gespot dat dié twee harde manne eintlik lankal reeds hul verstrykingsdatum bereik het.

Maar Lofty se lengte van 1,93 m en natuurlik sy klipharde speelvernuf het hom die beste man vir daardie toetse gemaak. Sy teenstander was Brian Lochore, kaptein en agsteman van die All Blacks, en Lofty was die een speler wat hom in bedwang sou kon hou.

Lofty was nie net lank nie, hy was ook baie woelig op die veld. Sit terug en kyk hoe daar destyds klipharde rugby sonder ingee gespeel is.

Die kritici en geskoktes moes hul woorde sluk toe die twee “senior” manne hul kant vir die Bokke bring en die All Blacks skoon stil speel.

In 1974, op 39-jarige ouderdom, het Lofty as ’n laat plaasvervanger vir Polla Fourie op die veld uitgedraf vir die destydse Suidoos-span teen die Britse Leeus.

Lofty het tussen 1960 en 1970 altesaam 11 toetse as agsteman en flank vir die Bokke gespeel. Heel ironies was sy eerste wedstryd in die Groen-en-Goud teen die All Blacks; so ook sy laaste wedstryd as ’n Bok.

Bronne: Sport24 , Rapport Argiewe