Die oud-Springbok Hannes Strydom is Dinsdagaand na bewering in Waterkloof aangeval, het die Polisiediens bevestig.

Ao. David Miller sê geen dossier is nog oopgemaak nie, maar Strydom is van voorneme om Woensdag ’n klagte in te dien by die Brooklyn-polisiekantoor.

“Al wat ek kan sê, is dat geen saak gemaak is nie, maar dat ons ondersoek ingestel het. Sodra ons al die besonderhede het, sal ons weet watter soort misdaad dit was,” het hy gesê. Strydom het luidens berigte aan Eyewitness News vertel dat vier mans Maandag probeer het om hom uit sy kar te gooi toe hy by ’n vierrigtingstopstraat stilhou. Hy voer aan sy kar is met ’n baksteen gegooi wat die voorruit gebreek en hom in die gesig getref het.

'Ek kon hulle gelukkig almal afweer.'

“Ek het gesê hulle moet my sleutels teruggee, hulle het geweier en dis toe wat die bakleiery begin het,” het Strydom gesê.

“Ek kon hulle gelukkig almal afweer.”

Die groep mans het toe na bewering gevlug met sy sleutels. Strydom het huis toe geloop, sy spaarsleutels gekry, teruggekeer na sy kar en self hospitaal toe gery. Hy is tans in ’n kritieke toestand in die hospitaal.

Aangesien geen verklaring nog afgelê is nie, kon Miller nie die besonderhede van die aanklag bevestig nie.

Bron: SAPA