Die oud-Springbok en TV-aanbieder Kobus Wiese het mense op Twitter warm onder die kraag nadat hy ’n foto gedeel het wat party van president Donald Trump se vroueteenstanders kritiseer.

“Hierdie vroue sê Trump verneder vroue; hoe ironies!” het hy geskryf by ’n foto van die bekende sangeresse Miley Cyrus, Madonna en Lady Gaga waar hulle in sexy uitrustings wulpse danspassies uitvoer.

[caption id="attachment_155809" align="aligncenter" width="616"]Foto: Twitter Foto: Twitter[/caption]
Talle vroue het die afgelope naweek tydens president Trump se inhuldiging optogte gehou om hulle teenkanting uit te spreek teen sy beweerde seksisme en voornemens om vroueregte skade aan te rig. Heelpartye mense op Twitter het gedink Kobus se kommentaar is onvanpas en dat hy nie die reg het om dié vroue te kritiseer nie.
“Dit is nie net hierdie vroue wat aan die optog deelgeneem het nie,” het een man geskryf. “Miljoene vroue het deelgeneem en tog teiken jy hulle asoof hulle die oorsaak is?”
Nog iemand het gevra “Wie het jou die reg gegee om te oordeel hoe vroue behoort op te tree?” terwyl iemand anders gesê het Kobus moet “hou by rugby” want sy “sosiale kommentaar is verdag”.
Kobus het op Twitter verduidelik dat hy “net die dubbele standaard uitgewys” het en “dat mense heeltemal sy punt misverstaan.” Die oud-krieketspeler Pat Symcox het Kobus onder meer ook verdedig. “Van wanneer af het jy die reg om ons te ontneem van ons reg om kommentaar te lewer?” wou hy by een Twitter-gebruiker wat na Kobus gekap het weet.
“Ek het eenvoudig ’n vergelyking gemaak,” sê Kobus aan Huisgenoot. “Ek het nie eens gesê ek is ’n Trump-ondersteuner nie. Al punt wat ek wou maak is dat vroue wat ook, in my oë, die beeld van vroue in die algemeen skade aanrig nie die reg het om Trump daarvan te beskuldig nie.”
Kobus sê dit is vir hom ontstellend dat mense op sosiale media agter skuilname wegkruip en dan ander mense se skrywes interpreteer nes hulle lus het en om hulle te pas.

“Ek stem saam daarmee dat Trump se opmerkings oor vroue onaanvaarbaar is. Enige mense met logika en ’n brein sal kan saamstem daarmee dat wat hy gesê het verkeerd is.

“Maar as jy in ’n glashuis bly, mag jy nie klippe gooi nie en daarom het ek gesê dit is ironies dat dié vrouebekendes hom kritiseer.”