Vrydag op die laaste skooldag van sommige matrieks in die land, het twee bekendes hul alma mater, die Hoërskool DF Malan in Bellville, besoek om die gr. 12’s moed in te praat vir die eindeksamen.

Die akteur Chris Vorster, bekend vir sy rol as Ryno Lategan in 7de Laan, het tien goed gesê wat hy gewens het hy op sy laaste matriekdag gehoor het.

1. As jy volgende jaar jou eie kos moet koop, is piesangs die beste waarde vir geld.

2. As jy uitgaan, vat altyd 'n warm top saam; en as dit sonnig is, dra altyd sonskerm sodat jy nie op 40 ween as jy voor die spieël staan nie.

3. Julle gaan die een of ander tyd drink en té veel ook, of dit nou opsetlik is of nie. Kom nou al in die gewoonte om saam met elke glas drank ook ’n glas water te drink. Water is jou vriend.

4. Kyk na jou liggaam. Ek was mal daaroor om van goed af te spring toe ek in Wilgenhof-koshuis op Stellenbosch was. Op 30 begin ek toe met my voete sukkel en ná ek plate laat neem het, sê die dokter my voete lyk soos die van 'n 70-jarige vrou s'n wat haar lewe lank op hoëhakskoene geloop het.

5. As een van die volgende goed jou hoofoorweging is om volgende jaar te gaan swot, oorweeg eerder 'n oorbruggingsjaar: Ek wil regte gaan studeer, want meisies hou van prokureurs; ek gaan ingenieurswese doen, want my kêrel studeer dit; ek wil 'n rekenmeester word, want hulle maak baie geld.

6. Geluk en sukses. Ek wens iemand het vir my verduidelik wat sukses is. Is geld sukses? Nee, sukses is geluk. So eenvoudig soos dit. Dis waarna jy moet streef. Nie die Kardashian-soort nie, maar dit wat jou laat uitsien om in die oggend op te staan.

7. Ouens, jy dink dalk dis indrukwekkend om jou beenhare te skeer, maar in my opinie as jou bene gladder is as jou meisie s'n, is jou prioriteite as man verkeerd; meisies hou nie van ouens wat mooier is as hulle nie.

8. Lees. My meisie, wat nou my vrou is, moes my handboeke op universiteit vir my hardop lees. Ek het dekades se kennis en genot gemis omdat ek nie gelees het nie. Los die TV en selfone. Lees maak jou 'n slimmer, ryker en meer gebalaneerde mens.

9. Ek wens iemand het my aan die einde van matriek vertel hoe lank alles gaan neem. Krisisse gebeur baie vinnig; maar al die goeie dinge in die lewe neem lank. Wees geduldig. Die grootste foute in my lewe was oor oorhaastige besluite en ongeduldigheid.

10. Julle besef nie hoe lief jul ouers julle het nie. Jul ouers wil hê julle moet suksesvol en gelukkig wees. Ek het jare later eers besef watter opofferings my ouers gemaak het.

Chris het bewoë geraak en sy ma, wat ook daar was, na die mikrofoon geroep. “Dankie, Mamma,” het hy gesê en haar ’n drukkie gegee.

Sy slotwoorde? “Moenie aanmekaar praat nie. Luister, lees en lag. Dis die sleutels tot sukses en geluk.”

Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar het die woorde van een van die liedjies wat hy help skryf het, voorgelees:

Grense is lyne op padkaarte en breine

mense is gedagtes met gesigsuitdrukkings

jou taal is klanke wat jou vriende maak

Waar jy groot geword het bestaan nie meer nie

verlore kinders moet loop en leer en werk om van verlede en ontdekkingslus

te bekeer

grense verdedig hart en land

maar hart is hart

en

land is land

en

Afrikaans is Afrikaans

maak nie saak waar in die wêreld jy jouself bevind nie

orals op die verkeerde paaie

ry duur motors

met moeë gesigte

onderdeur bang lamppale

wat op gefrustreerde doodloopstrate skyn

met hartseer bankkaarte

wat by leë banktellers na genade vry

en deurmekaar selfone wat langdradig kopsere wakker lui

lewe ons verby sinister advertensie borde

en senutergende koerantopskrifte

en mekaar

oral

verveelde TV’s

wat hartseer bangmaak-beelde flikker

op oorgewig sitkamerstelle

bou ons verleë aan hoop

om eendag hier iewers

’n prentjie mooi huis by die bank te kan koop

in die druk verkeer

en die briesende wind

wat die diepsee wolke se moordneigende reën

oor die kense skiereiland se versadigde lokasies spoeg

besef ek dat ons net sotte in ’n resies is

wat versot verbymekaar spronge tree

Ons is maar pens en pootjies

en ons maak net meer

oor die langtermyn stel ons net teleur

Ons is maar wild

Verwilderde goed

Wat die waarheid

In die wildernis soek

Wat ek soek

Kan nie aan my verkoop word nie

Wat ek soek is verniet

Dis om huis toe te wil kom

dis om ’n koue bier te geniet

en die mooi dag in sy moer te stuur

dis om veilig binne te kan wees as die wind hard huil

en die koue reën daar buite is

dis om te weet dat daar mense is wat jou sal af help

as jy op jou perdjie spring

en jou sal op help as jy aanjaag

en uit laat as jy wil verken

dis om uit jou buik uit te kan lag en dit te bedoel

dis om te weet wat jy soek

dis om te sing tot dit pyn

en te kan huil voor jou vriende

dis om te dink jy weet wie jy is

en te aanvaar dat jy meeste van die tyd

die pot mis sit

laat hy val waar hy wil

jou land is waar die son opkom en weer gaan sak

Ons is ruimtevaarders, automechanics, drop-outs

en dokters

Ons is strokiesprenthelde, boggerops, seuns en dogters

Ons is miljoenêrs en presidente, rockers en rugbyspelers, gelowiges en besetenes

Ons almal is

mense het hul grense self uitgedink

Baie sterkte aan al die matrieks van 2016 met hul eindeksamen!