Sy kan nog nie op haar vermoorde vriendin se Facebook-profiel ingaan nie; dit laat haar hart ineenkrimp, sê Danielle Louw. Sy en Bongiswa Majikijela (albei 23) was vyf jaar lank saam drama-studente aan die Universiteit Stellenbosch.

[caption id="attachment_150024" align="aligncenter" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Net ses van hulle in die klas het hulle toegespits op die tegniese deel van drama, soos beligting, ontwerp en kostuums. Hulle het in 2014 klaar studeer, maar almal het kontak behou en vriende gebly, sê Danielle.

Danielle het op Stellenbosch as verhoogbestuurder werk gekry en Bongiswa by ’n bestuursagentskap vir akteurs in Kaapstad. Bongiswa was die eerste een in haar familie wat universiteit toe is en boonop die eerste swart vrou wat die graad B.Dram. (Tegnies) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Maar nou sal Bongiswa op Ugie in die Oos-Kaap begrawe word nadat haar man haar en toe homself doodgeskiet het. ’n Gedenkdiens word op Woensdag 14 Desember gehou op die Paarlse plaas waar haar ma, Noandile Majikijela, woon.

Bongiswa is Maandagoggend op Klapmuts naby Stellenbosch doodgeskiet terwyl sy op pad was na haar werkplek in Observatory, Kaapstad. Sy word oorleef deur ’n dogter, Odwa.

Die lyk van Andile Madlathu (32), Odwa se pa, is later naby sy werkplek, die Drakenstein-leeupark, gekry.

Bongiswa het haar man ses weke gelede verlaat weens huishoudelike geweld en by haar ma ingetrek. Odwa se ouma moet nou na haar omsien.

“Ons vyf vriende wat saam met haar in die klas was, wil seker maak haar dogter kry die beste opvoeding. Ek het Bongiswa belowe ek sal haar help om klein Odwa in die beste moontlike skool te kry. Dis een van die laaste dinge waaroor ons gepraat het. Ek wil my belofte nakom,” vertel Danielle aan Huisgenoot.

“Ek het Odwa baie opgepas wanneer Bongiswa moes studeer of werk. Sy is soos my eie kind,” voeg Danielle by. Sy en die res van die vriendekring wil ook sorg dat Odwa en haar ouma berading kry.

“Ons het Vrydag saam deurgebring en sy vra steeds wanneer haar ma gaan terugkom,” vertel Danielle.

’n Brief van van Danielle aan KFM het die bal aan die rol gesit. Die stasie bied jaarliks ’n Christmas Wishlist-veldtog aan.

“Dis die laaste Kerswens en die moeilikste een wat ons nog gehad het,” het ’n baie emosionele Ryan O’Connor, aanbieder van die ontbytprogram op die Kaapse radiostasie, gesê voor hy borgskappe ter waarde van minstens R46 000 aangekondig het om die sewejarige Odwa by te staan.

Ryan het vertel Pick n Pay sal seker maak Noandile kan vir Odwa sorg. Hulle sal ’n jaar se inkopies en al haar skoolbenodigdhede verskaf.

Absa het vir Odwa ’n trustfonds geopen en reeds R30 000 geskenk om seker te maak sy bly in die skool.

@home gaan vir Odwa die kamer van haar drome gee ter waarde van R16 000.

En Spur Steak Ranches gaan ’n geleentheid reël waar die familie saam tyd kan deurbring.

“Baie, baie dankie,” het Noandile op die lug deur haar snikke gefluister.

Die aktrise Reine Swart, wat onder meer bekend is vir haar rol in die eerste Afrikaanse branderplankry-fliek, Die Pro, het op haar Facebook-blad geskryf: “Die meisie met die mooiste lag. Rus sag, Bongi.”

Enigiemand wat wil help met donasies vir Odwa se toekoms, kan Danielle e-pos by danielle.louw2@gmail.com.

Ekstra bronne: Netwerk24, KFM