Die sewemalige Wimbledon-kampioen Roger (32, van Switserland) het al 17 Grand Slam-titels verower, terwyl Novak (27, van Serwië) in 2011 by Wimbledon geseëvier het en al ses Grand Slam-titels gewen het.

Vandag se wedstryd teen Milos sal Roger se 35ste halfeindstryd by ’n Grand Slam wees, terwyl Novak in sy 23ste halfeindstryd sal speel. Hierteenoor het Milos en Grigor (albei 23) nog nooit so ver in ’n Grand Slam gevorder nie.

Met dié dat die tweemalige kampioen Rafael Nadal en die verlede jaar se wenner, Andy Murray, reeds uitgeskakel is, bly net twee van die sogenaamde Groot Vier oor, wat 35 van die afgelope 37 Grand Slam-titels verower het. En hulle bly steeds die groot gunstelinge.

Ten spyte van sy wens om Wimbledon vir die agtste keer te wen, wat ’n rekord sal wees, hou Roger vol hy is bly om die opkoms van jonger spelers te sien. Roger het al vier keer teen Milos te staan gekom en al vier wedstryde gewen. “Hy het ‘n groot afslaan. Dit is die opvallendste ding wanneer jy hom sien speel. Dit hou hom in die wedstryd,” het Roger gesê.

Maar Milos is vol moed: “Hy het my al vier keer geklop. Maar ons het meer as ’n jaar gelede laas gespeel, so ek dink ek is ’n ander speler.” As hy tot die eindstryd kan deurdring, sal hy hom aansluit by sy landgenoot Eugenie Bouchard, wat tot die vroue-eindstryd deurgedring het.

Die topgekeurde Novak het ’n jaar gelede teen Andy Murray verloor en loop 3-1 voor in wedstryde teen sy Bulgaarse teenstander. Grigor het dit reggekry om Andy in die kwarteindronde uit te skakel en word nou bekender vir sy eie tennisvermoë as vir die feit dat hy met Maria Sharapova uitgaan.

“Vrees is nie ’n opsie nie,” sê hy oor sy wedstryd teen Novak.

Novak self het gesê hy het baie respek vir Grigor, wat nog nie hierdie seisoen op gras verloor het nie. “Dit sê baie oor sy vermoë. Ek is seker baie mense beskou hom as ’n  moontlike Grand Slam-kampioen. Dalk hier, dalk in toekomstige Grand Slams,” het die topgekeurde gesê.

  • Novak Djokovic en Grigor Dimitrov speel eerste om drieuur (Suid-Afrikaanse tyd), waarna Roger Federer en Milos Raonic aan die beurt sal kom

Interessante feite oor vandag se Wimbledon-wedstryde:

  • Novak het in vanjaar se toernooi altesaam 12 uur en 7 minute op die baan deurgebring – die meeste van die vier mans in die halfeindronde. Roger het die minste deurgebring – slegs 8 uur en 35 minute.
  • As Grigor (23 jaar en 51 dae) en Milos (23 jaar en 191 dae) vanjaar in die eindronde teen mekaar te staan gaan kom, sal dit die jongste Grand Slam-eindstryd (die spelers se gekombineerde ouderdom) wees sedert die 2008-eindstryd van die Australiese Ope toe Novak teen die Fransman Jo-Wilfried Tsonga te staan kom. Dit sal ook die jongste eindstryd (die spelers se gekombineerde ouderdom) wees sedert 2006 (Roger teen Rafael).
  • Sowel Grigor as Milos mik daarna om die eerste mans van hul onderskeie land te word om in ’n Grand Slam-eindstryd te speel.
  • Die topgekeurde en 2011-kampioen, Novak, hoop om sy derde Wimbledon- en 14de Grand Slam-eindstryd te haal. Van sy vorige 22 Grand Slam-halfeindrondes het hy 13 gewen en nege verloor.
  • Die sewemalige Wimbledon-kampioen, Roger, hoop om sy negende Wimbledon- en 25ste Grand Slam-eindstryd te haal.

- Sapa