Hy is eers deur adv. Barry Roux ondervra. Nadat hy sy ondervraging afgehandel het, het die aanklaer, Gerrie Nel, gevra dat die hof kortliks verdaag vir ’n spesiale oprigting van die badkamerdeur voor daar met kruisondervraging begin is.

Die staatsgetuie kapt. Chris Mangena en sy span het ’n lasertoestel voor die deur opgerig. Dit blyk asof die toestel op dieselfde plek gesit is as waar Oscar moontlik tydens die skietery gestaan het. ’n Laserstraal is geprojekteer wat deur die toiletdeur skyn en rookgas is gespuit om dit duideliker te kan sien.

Adv. Barry Roux het ’n paar keer kom inspeksie doen en vrae gevra.

Kort ná die oprigting is hofverrigtinge hervat. Gerrie het regt. Thokozile Masipa toe gevra om inspeksie daarvan te kom doen voor hy met sy kruisondervraging begin.

En toe was dit Nel vs Wolmarans. Wollie het ’n paar keer geantwoord dat hy nie seker is nie, of dat hy nie kan onthou nie, terwyl Gerrie hom ondervra het oor die geloofwaardigheid van sy verslag.

Wollie het geïrriteerd geraak en verskoning gemaak vir sy swak Engels. Gerrie het met hom gepraat oor die sisteem waarvolgens hy dokumente stoor. Wollie het gesê dat hy dit op sy rekenaar stoor. Daar was vele komiese oomblikke te danke aan Wollie se antwoorde en gebroke Engels.

Oscar het glad nie gedink dis snaaks nie en die grootste deel van die oggend emosieloos gesit en na die grond gestaar. Wanneer Gerrie en Wollie oor Reeva se wonde gepraat het, het hy met sy kop in sy hande gesit en sy ore toegedruk.

Gerrie het gefokus op die ooreenkoms tussen ’n koeëlfragment en die merk op Reeva se rug; Wollie kon dit nie sien nie.

Die hof is verdaag vir middagete. Wanneer dit weer hervat word, sal daar hopelik duidelik wees wat met die lasarinstrument gedoen gaan word.

- Suzanne Venter