Sy is wêreldbekend vir haar skoonheid en talent, maar volgens Charlize Theron was sy nie altyd gewild nie.

Die Oscar-bekroonde aktrise het in ‘n onlangse onderhoud erken dat sy op skool geterg is en dat sy glad nie gewild was onder haar ander klasmaats nie.

Volgens Theron, ster van die nuwe fliek Young Adult, was sy alles behalwe gewild op skool, het sy gesukkel om in te pas en kon sy skaars ‘n kêrel se aandag vang.

“Ek het ‘n groot leesbril gedra omdat ek skaars kon sien. Die seuns het glad nie daarvan gehou nie,” het Theron aan People Magazine erken.

“Ek het te hard probeer om in te pas. Ek het soms vreemde dinge gedoen net om aandag te trek,” het sy gesê.

“Ek was nie gewild nie. Daar was een meisie op skool wat wel baie gewild was en ek was mal oor haar. Ek het een keer begin huil omdat ek nie langs haar kon sit nie,” het die 36-jarige Theron vertel.

Maar soos almal weet het Charlize die laaste lag gekry toe sy op 16-jarige ouderdom ‘n modelkontrak losgeslaan en na Milan vertrek het.

Wees op die uitkyk vir Charlize se nuutste fliek Young Adult wat binnekort in teaters begin draai. Charlize se vertolking het reeds Oscar-gons veroorsaak.

Lees meer hier.