Dit was so hittete of Oscar Pistorius se broer, Carl, was saam met hom in die moeilikheid.

Eyewitness News (EWN) het vanoggend berig dat Carl vervolging vrygespring het nadat die polisie uitgevind het hy het na bewering in die dae nadat Oscar sy meisie, Reeva Steenkamp, doodgeskiet het met Oscar se selfoon gepeuter het.

Volgens EWN het die ondersoekspan ná Reeva se skietdood dit oorweeg om Carl van regsverydeling aan te kla, maar hulle het toe daarteen besluit.

Dié bewerings het aan die lig gekom in die joernaliste Barry Bateman en Mandy Wiener se nuwe boek oor Oscar en Reeva, Behind the Door.

EWN berig na aanleiding van ’n ondersoek van die data van Oscar se foon is die oproepgeskiedenis en elke WhatsApp-boodskap uitgewis, sowel as verskeie boodskappe wat ná die skietery na die foon gestuur is. Die foon is eers 12 dae ná Reeva se dood aan die polisie oorhandig. In ’n poging om uit te vind waar die foon in dié 12 dae was, het die polisie die diensverskaffersdata van Oscar en Carl se fone in die 12 dae met mekaar vergelyk. Dit is hoe hulle bepaal het dat dit heel moontlik Carl was wat Oscar se foon van die moordtoneel verwyder het. Die polisie het verder bepaal dat die foon gesinchroniseer was met ’n rekenaar met die naam Titanium Hulk. Volgens EWN gebruik Carl dié strokiesprentkarakter se naam in sy e-posadres en verwys hy op sosiale media ook met tye na homself as die Hulk.

'Sovêr ons weet is alle relevante kommunikasie voor die hof geplaas.

Die Pistorius-familie en Oscar se regspan het gisteraand by monde van Anneliese Burgess, hul woordvoerder, in ’n verklaring gesê hulle is onbewus van enigiets wat Oscar of iemand in opdrag van hom (van ’n foon) uitgewis het wat met die verhoor verband kan hou of dit sou beïnvloed.

“Sovêr ons weet is alle relevante kommunikasie voor die hof geplaas. Die toepaslikheid van die kommunikasie op Oscar se fone, iPad en skootrekenaar is, het die hof toepaslik hanteer en het eindelik geen rol in die saak gespeel nie; dit het die hof bevind,” lui die verklaring.

Oscar is verlede maand aan strafbare manslag skuldig bevind. Sy vonnisverrigtinge sal op 13 Oktober begin.

- Saamgestel deur Hilda Fourie