Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag gehoor Oscar Pistorius was werklik berouvol nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, geskiet het. Die radioloog Johan Stipp het getuig dat Oscar emosioneel was terwyl hy Reeva in sy huis in Pretoria probeer bybring het.

'Hy wou beslis hê sy moes lewe; dit het vir my opreg gelyk.'

“Hy wou beslis hê sy moes lewe; dit het vir my opreg gelyk. Hy het trane in sy oë gehad,” het Johan gesê.

Johan se huis is naby Oscar s’n, wat op die Silver Woods-landgoed geleë is. Die Paralimpiese atleet het Reeva Valentynsdag verlede jaar daar geskiet.

Johan het getuig dat hy kort ná die skietery opgedaag en Reeva aan die onderpunt van die trap aangetref het. Oscar was besig om haar lugweg te probeer oopkry.

Johan het gesê hy het probeer hand bysit, maar het gou besef Reeva was reeds dood.

“Hy het gehuil. Hy het gebid en beloftes aan die Here gemaak; hy was geweldig ontsteld,” het Johan getuig. In sy amptelike verklaring het hy Oscar as “heeltemal oorstuur” beskryf.

[caption id="attachment_69593" align="alignnone" width="600"] Oscar Pistorius huil tydens die getuienis van ’n buurman by sy verhoor. (Foto: Sapa/  Marco Longari/AFP) Oscar Pistorius huil tydens die getuienis van ’n buurman by sy verhoor. (Foto: Sapa/ Marco Longari/AFP)[/caption]

Terwyl hy na die getuienis gesit en luister het, het Oscar sy gesig met sy hande toegehou. Sy suster, Aimee, het by hom kom sit. Sy het deurentyd met hom gepraat.

Oscar hou vol hy het Reeva geskiet omdat hy gedink het sy is ’n inbreker. Die staat wil bewys hy het haar met voorbedagte rade vermoor toe hy haar deur ’n toe badkamerdeur skiet. Oscar staan ook tereg op aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

15 móét-sien foto’s van dag vier