Sy het die bewerings op Twitter ontken dat hy die dag by die huis saam met ’n besoekende predikant deurgebring het.

“Die ontmoeting het oor die naweek gebeur. Oscar was Maandag heeldag by Weskoppies soos per die vereistes van die hofbevel,” het sy Dinsdag gesê.

Oscar van Maandag ’n 30 dae lange psigiatriese evaluering by die hospitaal begin ondergaan.

Die Amerikaanse predikant Robert Tillman Kendall het ’n foto van hom en Oscar net ná vyfuur op dieselfde dag getwiet.

Hy het geskryf: “Oscar Pistorius het vandag in sy huis in Pretoria, Suid-Afrika, middagete met my geëet. Bid tog asseblief vir hom.”

Volgens Anneliese was Oscar Maandag heeldag by die hospitaal.

Hy is as ’n buitepasiënt opgeneem ná ’n hofbevel van regt. Thokozile Masipa in die hooggeregshof in Pretoria.

Drie psigiaters en een kliniese sielkundige gaan hom evalueer om te bepaal of sy algemene angssteuring en gebrek hom geaffekteer het toe hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar doodskiet.

Een psigiater is deur die verdediging aangestel, een deur die hof, en die derde deur die hospitaal.

Oscar staan tereg weens moord. Hy het Reeva deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet. Hy voer aan hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat die deur wou oopmaak en hulle aanval. Hy pleit onskuldig op die aanklag.

Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Oscar staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

- Sapa