Oscar Pistorius was altyd angstig. Of hulle nou in die motor gery of by sy huis aan die eetkamertafel gesit en of hy in 'n hotelkamer was.

So het Peet van Zyl, Oscar se bestuurder, vanoggend in die hooggeregshof in Pretoria getuig.

Peet is al sedert 2006 Oscar se bestuurder. Van Mei tot Augustus, wanneer dit Oscar se seisoen is om deel te neem, was hulle amper heeltyd bymekaar, hetsy in Italië, waar hul basis was, of by ’n kompetisie. Andersins het hulle bykans daagliks gepraat.

Terwyl hulle in die motor gery het, het Oscar altyd gejaag. "Hy sou vir my sê: 'Onthou die keer toe ek gekaap is en 'n vuurwapen teen my kop gehad het?' Hy wou net seker maak ek is veilig."

Wanneer hulle by Oscar se huis in die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria was, was veiligheid ook voorop in Oscar se gedagtes. "Ek het gesukkel om hom te kry om te konsentreer. Hy het heeltyd gekriewel. Hy sou die huishulp vra of sy seker is die deure is gesluit; so nie sou hy haar vra waar die honde is."

Wanneer Oscar op die lughawe of voor ’n geleentheid parkering gesoek het, was dit in ’n oop ruimte waartoe hy maklik toegang kon kry. Dit moes ook naby ’n lig wees sodat daar lig sou wees wanneer hy in die donker na sy motor toe stap.

Oorsee het Oscar hom in sy hotelkamer agter slot en grendel gehou.

’n Week voor Oscar sy meisie Reeva Steenkamp doodgeskiet het, het Peet en Oscar in Oscar se huis ontmoet. Vir die eerste keer het Oscar Peet gevra of hy kan reël dat Reeva saam met hom kan gaan na twee toernooie, een in Brasilië in Maart en een in Manchester in Mei.

"Hulle was 'n liefdevolle paartjie en het mekaar altyd op hul troetelname genoem."

Ná teetyd het Gerrie Nel met kruisondervraging begin.

- Hilda Fourie