Oscar Pistorius gaan weer aan kompetisies kan deelneem nadat hy straf uitgedien het vir die skietdood van sy meisie, het die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK) Vrydag gesê.

Die Paralimpiese atleet is Vrydag skuldig bevind aan strafbare manslag vir die dood van Reeva Steenkamp. Sy vonnisverhoor begin op 13 Oktober, en hy kan so swaar gevonnis word soos 15 jaar tronkstraf of so min soos ’n opgeskorte vonnis opgelê word.

“Mits hy sy vonnis uitdien en wil deelneem, en as die Suid-Afrikaanse Nasionale Paralimpiese Komitee hom kies, gaan dit hom vrystaan om aan kompetisies deel te neem,” het ’n IPK-woordvoerder, Craig Spence, gesê.

Craig het gesê Oscar, wat ses gouemedaljes by drie Paralimpiese Spele gewen het, kan nie die reg ontken word om weer mee te ding nie omdat die IPK nie “verantwoordelik is vir die straf nie – dit hang van die Suid-Afrikaanse hof af”.

“Ons is ’n sportorganisasie,” het Craig gesê. “Ons moet onderskei tussen sport en wat in sy privaat lewe aangaan.”

Xavier Gonzalez, die hoofbeampte van die IPK, het Vrydag gesê Oscar se moordverhoor “het geen uitwerking op ons aktiwiteite nie”, want die organisasie is nie meer afhanklik van sy hoë profiel nie.

“Oscar was tussen 2008 en 2012 ’n fundamentele ambassadeur van die Paralimpiese beweging,” het Xavier gesê. “Sedertdien het die Paralimpiese beweging baie ander ambassadeurs en baie ander atlete wat wêreldwyd herken word en ons glo dit gaan in die aanloop van 2016 aanhou groei.”