Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius het vanoggend in die hooggeregshof in Pretoria die voorwaardes rakende sy psigiatriese waarneming gehoor.

Regt. Thokozile Masipa het verlede Woensdag beslis dat hy vir waarneming gestuur word.

Merryll Vorster, ’n forensiese psigiater, het getuig hy ly aan algemene angssteuring.

Die hof het vanoggend beslis dat Oscar van Maandag 26 Mei 30 dae lank as ’n buite-pasiënt by die Weskoppies psigiatriese hospitaal behandel moet word. Hy moet elke weeksdag van negeuur tot vieruur by die hospitaal wees of tot wanneer hy deur die mediese superintendent verskoon word.

Hy sal waargeneem word deur ’n paneel bestaande uit prof. Herman Pretorius en Carla Kotze, psigiaters van Weskoppies. Dr. Jonathan Scholtz vorm ook deel van die paneel en Leon Fine is die psigiater vir die verdediging.

Die paneel moet onder meer bepaal of Oscar kon onderskei tussen reg en verkeerd is en so opgetree het.

Die paneel sal hul bevindings in ’n verslag by die hof indien.

Die hof is tot 30 Junie verdaag.

Oscar staan tereg weens moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in sy huis geskiet het. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

Oscar staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar.

Hy pleit onskuldig op alle aanklagte.