Oscar von Memerty is nie iemand wat jy sommer op sy baadjie óf sy gebrek aan lengte moet takseer nie.

Hy staan kwalik 117 cm in sy skoene, maar dié 20-jarige is vasbeslote om nog een van sy drome te verwesenlik, naamlik om op Ellen DeGeneres se geselsprogram te kuier; saam met Ellen, natuurlik.

Oscar, die seun van twee legendes in die vermaakwêreld, Ian en Vivian von Memerty, moes reeds geweldige struikelblokke in sy kort lewe oorkom.

In Junie 1996 het Ian en Vivian die hartverskeurende bevestiging gekry dat MPS 6 (muco polysacharodisis 6), ook bekend as Marotewau Lamy-sindroom, gediagnoseer is by Oscar en sy ouer suster, Valeska. Beenmurgoorplantings is aanbeveel om die twee te help, maar dit sou ’n plaas se geld gekos het. Tog het Ian en Vivian in 1997 berge versit om R1,25 miljoen in te samel vir dié prosedures. Lees ook: SA baba met ‘lekhart’ ontroer mense wêreldwyd Ná ses maande het Oscar sy oorplanting verwerp. Vivian se liggaam het hare aanvaar, maar sy is in Augustus 1998 oorlede nadat oorplantingskomplikasies ingetree het.

“Weens die hoë risiko verbonde aan ’n tweede beenmurgoorplanting het ons besluit om die sindroom sy gang te laat gaan, en bloot vir Oscar lief te wees en hom te steun,” skryf Ian op sy webtuiste. In Mei 2002 het Oscar ’n “lyte”-oorplanting in Londen ondergaan. Ernstige longontsteking gevolg deur ’n hartstilstand van 10 minute het byna Oscar se lewe geëis.

’n Vasbeslote Oscar het ook hierdie beproewing oorleef. Ian loof die uitstekende werk wat deur die Great Ormond Street-hospitaal in Londen gedoen is om Oscar se lewe te help red.

Sy pa beskryf hom as “koel, kalm, snaaks, gefokus, slim en iemand wat baie modieus aantrek”.

Lees ook: ‘Ek leef nou met my vel’: Brandoorlewende vra ander op modeblog om hul littekens te aanvaar

“Ek was 10 dae lank in ’n koma, maar weet jy hoe bitter graag ek ná 10 dae ’n koppie tee wou hê!” skerts hy daaroor.

Dis duidelik dat die inspirerende Oscar sal sorg dat niks of niemand hom van sy droom laat afsien nie. ?

“Jy kry nie duurder en meer eksklusief as ek nie,” sê Oscar. En hy voeg daad by die woord in sy video deur sy gespierde lyf en superkoel hip-hop-danspassies met die wêreld te deel.

Kyk die video hier:

Oscar glo as daar genoeg steun vir hom is, sal hy wel eersdaags saam met Ellen op die kassie verskyn.

“Ek voldoen aan al drie vereistes wat Ellen stel voor jy op haar program kan verskyn: sexygeit, danspassies en inspirasie.”

En sy hoef ook nie ver na hom te soek nie. Oscar gaan op die rooi tapyt wees tydens die MTV Music Awards in Los Angeles en wie weet? Dalk, net dalk gaan sy paadjie daar met Ellen s’n kruis.

Hoe kan jy Oscar help?

Deel Oscar se video op Twitter en gebruik die hutsnaam #GetOscarOnEllen.

Ook op Huisgenoot.com

Hierdie plusgrootte-model het die volmaakte antwoord vir mense wat ander se lyf afkraak

Kyk: Kan jy die versteekte prentjie binne dié rooi kol sien?

Hoeveel weet jy van Jan van Riebeeck?

Kyk: Hidroliese pers vernietig enigiets – van Lego tot selfone en gholfballe

Ouma oorleef wonderbaarlik ná sy deur veiligheidshek se spitspen deurboor word

Tiener gooi balletjie ‘na homself’ in asemrowende optiese illusie