“Die twee stories is kop aan kop op wêreldwye nuuswebtuistes,” het Data Driven Insight (DDI) gesê.

Die Pistorius-verhoor, prominent in fokus sedert dit op 3 Maart begin het, het 50,94 persent van die mediaruimte in beslag geneem.

Die Maleisiese vliegtuig het 49,06 in beslag geneem.

Die ster-atleet staan tereg vir die voorafbeplande moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, en oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Hy pleit onskuldig op al die aanklagte.

Maandag het die owerhede in Maleisië bekendgemaak die vermiste Boeing 777 het in die see neergestort en daar is geen oorlewendes nie.

Die opname toon die Pistorius-hofsaak het  die eerste dag die meeste belangstelling ontlok, gevolg deur 10 Maart, die dag waarop prof. Gert Saayman die grafiese foto’s van Reeva voorgelê het.

“Die derde hoogste mediabelangstelling was gister (Dinsdag), grootliks danksy die boodskappe wat uit selfoongesprekke op WhatsApp voorgelees is,” toon die opname.

Die opname toon lande soos Amerika, Duitsland, Brittanje en Australië gee die Pistorius-hofsaak meer dekking as die Suid-Afrikaanse media.

Die data is saamgestel uit 6,2 miljoen sosialemediaplatforms, onder meer blogs, forums, sosiale netwerke en kommentaar, 60 000 aanlyn koerante wêreldwyd, 2 000 Suid-Afrikaanse gedrukte publikasies, en 66 radio- en televisiestasies.

- SAPA