Dit is amper tyd vir die jaarlikse Oscar-toekenningseremonie en kenners stem saam dat dit vanjaar moeilik is om die wenners in verskeie kategorieë te voorspel, veral in die gesogte kategorie vir die beste fliek.

Maar een voorspelling is wel moontlik: die waarskynlikheid is goed dat ’n fliek wat op ware gebeure gebaseer is die goue beeldjie gaan kry.  Uit die nege genomineerde flieks is daar vanjaar ’n verstommende ses wat op ware gebeure gebaseer is. Laas jaar se wenner van dié kategorie, Argo, is ook op ’n ware verhaal gebaseer. Lees hier waar dié ses flieks aan hul storielyne kom.

12 Years a Slave

Hierdie geskiedkundige drama is ’n aanpassing van Solomon Northup (gespeel deur Chiwetel Ejiofor) se memoir wat in 1853 gepubliseer is. Solomon was ’n vrygebore swart Amerikaner wat in 1841 ontvoer is en as slaaf verkoop is.

The Wolf of Wall Street

Dié donker komedie is gebaseer op die memoir van Jordan Belfort, ’n voormalige New Yorkse aandelemakelaar. Hy is in 1998 skuldig bevind aan geldwassery-misdade wat verband hou met manipulasie van die aandelemark. Leonardo DiCaprio speel die rol van Jordan in dié fliek wat die uitspattige leefstyl van die rykes uitbeeld.

American Hustle

American Hustle is gebaseer op FBI-werksaamhede in die 1970’s. Dit fokus spesifiek op die Abscam-ondersoek (operation)  waar veroordeelde swendelaars die FBI gehelp het om korrupte politici vas te trek. Die fliek het ‘n sterbelaaide rolverdelings: Christian Bale, Bradley Cooper, Amy Adams en Jennifer Lawrence is almal daarin te sien.

Dallas Buyers Club

In dié fliek wat ook gebaseer is op ’n ware verhaal speel Matthew McConaughey die Vigs-pasiënt Ron Woodroof. In die 1980’s het Ron medisyne wat nog nie deur wetgewing goedgekeur was nie vanuit Mexiko ingesmokkel nadat hy gesien het dit verbeter sy simptome. Hy en ‘n ander Vigs-pasiënt (gespeel deur Jared Leto) het toe die Dallas Buyers Club in dié Texas-stad gestig om hierdie onwettige middels aan ander MIV-positiewe pasiënte te verkoop.

Philomena

Judi Dench is genomineer as beste aktrise vir haar spel as Philomena Lee. Philomena se pa het haar in 1951 weggestuur na ‘n klooster ná sy swanger geword het. Haar seun word dan weggegee vir aanneming sonder dat sy die kans kry om hom te groet. Vyftig jaar later probeer sy opnuut om hom op te spoor met die hulp van ‘n joernalis (gespeel deur Steve Coogan).

Captain Phillips

Captain Philips is gebaseer op die 2009-kaping van die vragskip Maersk Alabama deur Somaliese seerowers. Tom Hanks speel die rol van die kaptein Richard Phillips in die storie oor die kaping en die suksesvolle reddingsaksie deur die Amerikaanse Vloot.

  • Die drie ander flieks wat genomineer is in die kategorie is: Gravity, Her en Nebraska.