Die Afrikaanse dagkoerant het gesê hulle het die video via Skype gekyk met behulp van ’n paar van hul lesers in Australië. Channel 7 het dit om 00:45 plaaslike tyd uitgesaai. Beeld het gesê die dokumentêr Running Scared wys die Paralimpiese atleet wat op sy stompies hardloop, sy suster, Aimée, wat in die badkamer langs die toilet lê, Oscar wat haar optel en by die trap afdra en Oscar self wat langs die toilet lê.

'Uit! Uit my f***** huis!'

Dit wys ook hoe Oscar skree “Uit! Uit my f***** huis!”, “God, help my asseblief!” en herhaaldelik “Reeva!”

Die eerste toneel is Oscar wat in sy oom, Arnold, sê huis op sy stompies op twee Persiese matte loop. Die tweede toneel wys hoe hy veel vinniger op dieselfde matte loop met sy regterarm voor hom uitgestrek asof hy ’n pistool vashou.

Dit wys ook hoe hy vier skote deur die toiletdeur skiet.

Dan kniel hy in die video met sy prosteses en sit sy suster aan die voet van die trap in sy oom se huis neer.

Sy prokureurs het Sondag ’n verklaring uitgereik waarin hulle die uitsaai van die video beskryf as ’n “verbysterende verbreking van vertroue” en ’n skending van die familie se privaatheid.

Oscar se prokureur Brian Webber het gesê Channel 7 het die beeldmateriaal onwettig bekom.

“Daarbenewens het ons gedurende ons betrokkenheid met Channel 7 ooreengestem dat hulle niks voor die einde van die hofsaak sal uitsaai nie.”

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het nog nie die video gesien nie.

“Ons het geen kommentaar, en het niks met die video te doen nie,” het ’n woordvoerder, Nathi Mncube, Maandag gesê.

Hy het gesê die staat se regspan, onder leiding van Gerrie Nel, het nog nie die video gesien nie.

- Sapa