’n Video van die moordbeskuldigde Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, wat die gebeure uitbeeld van die aand toe hy sy meisie, Reeva Steenkamp, doodskiet, was vir hofsaak-doeleindes en die uitsaai daarvan het ’n ooreenkoms verbreek, het sy prokureur Sondag gesê.

“Ons wil dit graag baie duidelik maak dat die beeldmateriaal wat uitgesaai is, onwettig bekom is en die verswygingsooreenkoms met The Evidence Room verbreek,” het Brian Webber in ’n verklaring gesê.

“Die gebruik daarvan vorm ook ’n verbreking van voorreg omdat hierdie materiaal vir hofsaak-doeleindes in opdrag van ’n kommissaris geskep is, en die kopieregbesit berus by die kommissaris. Daar is nie toestemming gegee vir die bekendmaking daarvan nie.”

Brian het verduidelik die verdediging het in Oktober verlede jaar die hulp ingeroep van The Evidence Room, ’n Amerikaanse onderneming wat spesialiseer in forensiese animasie.

“Die onderneming is gevra om die gebeure van die nag van die ongeluk visueel uit te skets. As deel van die proses is video-beeldmateriaal afgeneem.

“Die ‘visuele uitsketsing’ is slegs vir hofsaakvoorbereiding en was nie vir enige ander oogmerk bedoel nie.”

Die lokvideo van Australië se Channel 7-program Sunday Night wys hoe Oscar met ’n denkbeeldige pistool in sy hand op sy stompies loop. In ’n ander toneel dra hy ’n vrou, na bewering sy suster, by ’n badkamer uit.

Die program se webtuiste beskryf die video as “tot nou toe ongesiene beeldmateriaal van Oscar Pistorius wat die gebeure uitvoer van die nag waarin hy Reeva Steenkamp doodgeskiet het. Dit het ’n voorste forensiese kenner van sy onskuld oortuig.”

Die video is Sondag in Australië uitgesaai.

Brian het gesê Channel 7 het die beeldmateriaal onwettig bekom.

“Daarbenewens het ons gedurende ons betrokkenheid met Channel 7 ooreengestem dat hulle niks voor die einde van die hofsaak sal uitsaai nie.

“Terwyl ons nie kan indink hoe enige van die beeldmateriaal nie Oscar se weergawe ondersteun nie, sal ons eers weer in ’n posisie wees om kommentaar te lewer sodra ons die geleentheid kry om te bestudeer wat uitgesaai is.”

Brian het ook genoem die uitsaai behels ’n “verbysterende verbreking van vertroue” en ’n skending van die familie se privaatheid.

- Sapa