Die ondersoekbeampte kapt. Christian Mangena het getuienis gelewer oor sy bevindinge ná sy ondersoek van die toiletdeur waardeur Oscar Reeva geskiet het.

Hy sê nadat hy die deur weer aanmekaargesit het (met sy oorspronklike skroewe), het hy die koeëlgate gemerk en die deur teruggeneem na Oscar se huis in die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria.

Kol. Johan Vermeulen van die polisie se forensiese afdeling het hom gehelp.

Christian het weer die koeëlgate gemerk en gemeet.

Koeëlgat A was 93,5 cm van die badkamervloer, B was 104,3 cm, C was 99,4 cm en D was 97,3 cm, het hy getuig.

Volgens Christian het hy by die toiletvertrekkie ingegaan en gate is die teëls opgemerk. Hy het dit toe gemerk as gate wat deur opslagskote veroorsaak is. Hy het daardie gate ook gemeet.

Hy het oorblyfsels van lood op die teëls gevind en daardie drie plekke ook gemerk. Hy het ’n meetstok gebruik om die hoek te kry waarteen die koeëls die deur getref het.

“Dit wil voorstel dat die teiken iemand was wat in die toiletvertrekkie was,” het Christian gesê. Dit was teen ’n effens afwaartse hoek, tussen vyf en ses grade.

Christian het ’n hoekvinder gebruik om die hoek te kry waarteen die koeëls die deur getref het, en ’n laser om die koeëlbaan vas te stel.

Hy sê hy het toe die laser op ’n driepoot gesit en die deur toegemaak. Die laser het toe deur die koeëlgat geskyn. Hy het ook ’n hoekvinder op die laser gebruik om die laser se hoogte te bepaal.

Christian het gevra om foto’s van die toneel te sien. “Ek wou sien waar die koeëldoppies lê,” het hy verduidelik.

Oscar staan tereg vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, wat op 14 Februarie verlede jaar deur ’n geslote badkamerdeur in sy huis in Pretoria geskiet is. Hy word ook daarvan aangekla dat hy die vuurwapenwet oortree het.

Die hofsaak hervat Woensdag.

- Sapa