Die polisiefotograaf a.o. Barend van Staden is in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria kruisondervra oor die etikettering van die foto’s wat hy van die voor- en agterkant van ’n bloedbesmeerde krieketkolf geneem het.

Barry het klein verskille uitgewys tussen dié foto’s en foto’s wat Barend by Oscar se huis geneem het. Barry het gevra dat Barend dit aan hom verduidelik. Barend het toe verduidelik dat hy die kolf omgedraai het om die agterkant te ondersoek – wat met handtekeninge bedek is.

“Het jy al ooit krieket gespeel?” het Barry hom gevra. Hy het nee geantwoord, maar op die daaropvolgende vraag geantwoord dat hy wel al krieket gekyk het.

“Het jy al ooit gesien dat hulle die bal met die agterkant van die kolf slaan?” het Barry gevra.

“Nee, u edele,” het Barend geantwoord.

Barry het twee keer gevra met watter kant die kolwer die bal slaan en Barend het geantwoord: “Die plat kant, u edele.”

Hy het bygevoeg dat dit net sy eie mening was van wat die voor- en agterkant van die kolf is.

Die staatsaanklaer, adv. Gerrie Nel, het toe aan regt. Thokozile Masipa gesê Barry maak ’n bespotting van Barend, en dat hy Barry se vrae oor die kolf beantwoord het.

Barry was op die punt om Gerrie te antwoord toe die regter aan Barry sê: “Om mee te begin kan jy nie met ’n getuie stry nie... Jy kan nie met ’n getuie stry nie.”

“Ja, maar... maar,” het Barry stamelend geantwoord, en toe eerder ander vrae begin vra. Hy geniet nou groot roem oor sy kenmerkende ondervragingstyl.

– Sapa