Dit was net ’n maand voor hy Reeva Steenkamp doodgeskiet het.

Die staatsaanklaer adv. Gerrie Nel het hierdie voorval verlede jaar tydens Oscar se borgtogaansoek opgehaal, en het dit gebruik as bewys dat Oscar die soort mens is wat verantwoordelikheid probeer ontduik. Die beroepsbokser Kevin Lerena is Woensdag geroep om te getuig, en het gesê hy het in Januarie verlede jaar saam met Oscar en nog twee mans in die restaurant Tasha’s gaan eet, waar iemand ’n vuurwapen te voorskyn gebring het. “Ek weet nie hoekom nie, maar iemand het ’n vuurwapen onder die tafel aangegee,” het Kevin getuig. Hy het gesê dat Oscar per ongeluk ’n skoot geskiet het, dadelik verskoning gevra het, en toe sy vriend Darren Fresco gevra om die skuld daarvoor te aanvaar. Oscar wou glo nie slegte publisiteit hê nie.

'Asseblief, Darren, sê net dit was jy; ek kan nie nou enige spanning hanteer nie.'

“Asseblief, Darren, sê net dit was jy; ek kan nie nou enige spanning hanteer nie,” het Oscar destyds gesê, volgens Kevin se getuienis.

Kevin het getuig: “Darren het die restauranteienaars vertel die vuurwapen het aan sy broek vasgehaak. Hy het toe skuld daarvoor aanvaar.”

Volgens Kevin het óf die koeël óf skrapnel sy voet getref, en al was hy geskok, het hy nie mediese sorg nodig gehad nie. Hy het die voorval grootliks geïgnoreer tot hy by die mediastorm betrek is nadat Oscar sy meisie, Reeva Steenkamp, doodgeskiet het.

Het het meer as honderd oproepe daagliks gekry, waarvan heelwat was van buitelandse joernaliste wat berig het oor die voorval wat lewenslange tronkstraf vir die Paralimpiese kan beteken.

“Ek het nooit weer daaroor gepraat nie. Ek het op die 16de (Februarie 2013) meer as honderd oproepe van die media gekry,” sê Kevin.

Restaurant-eienaars

Tasha’s se eienaars, Jason en Maria Loupis, het volgende getuig. Hulle het bevestig dat Darren die skuld aanvaar het vir die skoot wat ’n gat in die restaurant se vloer gemaak het.

Volgens Jason het daar ’n stilte neergedaal nadat die skoot geskiet is; hy het na Oscar se tafel gestap en gevra wat gebeur het.

“Almal het na my gekyk. Darren sê toe: ‘Jammer, Jason, my pistool het uit my broek geval,’” sê Jason.

Oscar se prokureur, Barry Roux, het tydens Jason se kruisondervraging gemeld dat Oscar die rekening betaal het, en ook aangebied het om te betaal vir enige skade wat die skoot veroorsaak het.

Maar Jason sê hy onthou nie dat Oscar skadevergoeding aangebied het nie.

Die hof het ná die restauranteienaars se getuienis vir die dag verdaag.

Charl Johnson se getuienis

Barry het vroeër Woensdag die staatsgetuie Charl Johnson se ondervraging voortgesit. Charl en sy vrou, Michelle Burger, het albei getuig dat hulle die aand van 14 Februarie ’n vrou se benoude gille, en daarna enkele skote, gehoor het. Oscar het Reeva in sy huis geskiet, wat minder as 200 m van Charl en Michelle is. Volgens Barry het die paartjie gesorg dat elkeen se weergawe van daardie aand se gebeure bymekaar pas en dat hulle sy bekende kliënt se geloofwaardigheid in gedrang wil bring.

'Jy het nie ’n sterk, onafhanklike weergawe van die voorval gegee nie.'

Volgens Barry is dit snaaks dat hulle albei getuig het van “gille wat wegsterf”, terwyl hierdie woorde nie voorkom in die verklaring wat kapt. Mike van Aardt by hulle geneem het nie.

“Jy het nie ’n sterk, onafhanklike weergawe van die voorval gegee nie,” het Barry aan Charl gesê.

“Dit is in die hof se belang dat getuies onbevooroordeeld in die getuiebank is. Jy en jou vrou net sowel saam in die getuiebank verskyn het.”

Hierop het regt. Thokozile Masipa Barry berispe met die woorde: “Voer jy dit nie dalk nou te ver nie?”

Barry het toegegee, maar het voorgestel dat Charl, soos sy vrou, die geluid van ’n krieketkolf verwar het met skote.

“Ek verstaan dat jy glo jy het skote gehoor,” het hy gesê. “Maar jy kan dalk verkeerd wees. ’n Man se lewe is op die spel.”

Oscar hou vol hy het ’n krieketkolf gebruik om die toiletdeur oop te kry nadat hy Reeva geskiet het. Hy het eers vier skote geskiet nadat hy gedink het daar is ’n inbreker in die badkamer.

Hy ontken dat hy Reeva opsetlik vermoor het, en het Maandag onskuldig gepleit op ’n aanklag van moord met voorbedagte rade. Hy word ook aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar.

Charl het Dinsdag erken dat hy en sy vrou opgesien het teen die intense mediabelangstelling in die saak, maar het verplig gevoel om na vore te kom nadat hy agtergekom het Oscar se weergawe van die aand se gebeure, verskil van wat hulle daarvan onthou. Charl het Woensdagoggend onthul dat hy ’n aantal ontstellende oproepe ontvang het nadat sy telefoonnommer Dinsdag in die hof uitgelees is. Tot dusver is Kevin al getuie wat toegelaat het dat sy gesig gewys word tydens die hofverrigtinge, wat regstreeks uitgesaai word.

16 móét-sien foto’s van vandag se verskyning