Die staat sal Maandag in die hooggeregshof in Pretoria aanvoer dat die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius die maksimum vonnis vir strafbare manslag moet kry, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê.

“Ons plig is om te verseker dat ons vir die swaarste straf moonltlik vra,” het die woordvoerder Nathi Mncube buite die hof gesê.

Hy het gesê die staat sou argumenteer vir ’n vonnis wat toepaslik is vir die erns van die misdaad. Oscar is op 12 September skuldig bevind aan strafbare manslag weens die skietdood van sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar. “Hy is skuldig bevind aan strafbare manslag; iemand het hul lewe verloor en ons dink dit verdien die swaarste straf,” het Nathi gesê.

'Ons besluit nie wat die toepaslike vonnis is nie.'

“Ons besluit nie wat die toepaslike vonnis is nie; ons verantwoordelikheid is om te argumenteer vir ’n swaar vonnis.

“Die wet op minimum vonnisse is nie van toepassing op strafbare manslag nie; daar is dus geen minimum of maksimum vonnis nie. Dit kan wissel tussen ’n opgeskorte vonnis, boete en tronkstraf. Net die regter kan besluit.”

Die staat het ’n slagofferimpakverklaring voorberei oor hoe die saak familielede en vriende geraak het, het hy gesê.

Nathi het gesê die verdediging en staat kan getuies roep of reguit na argumente beweeg. Hulle sal getuies kan kruisondervra.

Hy het gesê dit sou op hierdie punt oneties wees om kommentaar te lewe oor of die staat die uitspraak sal appelleer al dan nie.

“Ons moet wag tot die vonnis bekendgemaak word,” het hy gesê.

Barry en June Steenkamp, Reeva se ouers, het Maandagoggend by die hof aangekom, asook van Reeva se vriende.

Regt. Thokozile Masipa het Oscar verlede maand skuldig bevind aan strafbare manslag nadat hy Reeva op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria doodgeskiet het.

- Sapa