[caption id="attachment_74471" align="alignnone" width="600"](Foto: Gianluigi Guercia/AFP/Sapa) (Foto: Gianluigi Guercia/AFP/Sapa)[/caption]

“Sy (Oscar se) gedrag kan suksesvol binne die gemeenskapskonteks verander word,” het die maatskaplike werker vir die departement van korrektiewe dienste Mashaba Joel Maringa gesê.

“Daar word aanbeveel dat die Agbare Hof korrektiewe toesig moet oorweeg.”

Hy het gesê Oscar moet drie jaar korrektiewe toesig opgelê word.

Die verdediging het Mashaba gevra om ’n verslag oor Oscar op te stel.

Mashaba het gesê sommige van die voorgestelde voorwaardes is dat Oscar onder huisarres met behoorlike voorwaardes geplaas moet word. Die huisarres moet aangepas word nadat ’n deel van die vonnis uitgedien is.

“Daar word aanbeveel dat die beskuldigde 16 uur per maand gemeenskapsdiens moet verrig.”

Gemeenskapsdiens sou algemene werk wees en Oscar moet later na algemene huishoudelike werk verskuif word, het Mashaba gesê.

Oscar moet toegelaat word om werk toe en terug te pendel en moenie toegelaat word om te reis nie tensy hy dit vooraf gereël het.

Mashaba het Oscar se gesinslewe en verhoudings met sy ouers en broer en suster hersien.

Die atleet was ’n kandidaat vir korrektiewe toesig omdat dit sy eerste oortreding is.

Hy het gesê Oscar het ná die skietvoorval ’n diagnose van post-traumatiese stres gehad.

“Die beskuldigde het hom as ’n sosiale drinker beskryf wat by geleenthede bier gedrink het,” het hy gesê.

Oscar het ontken dat hy middels anders as medikasie geneem het,” het Mashaba gesê.

“Die beskuldigde sal baat vind by korrektiewe toesig,” het hy gesê.

Oscar se lewe kan herstruktureer en verander word “om die verwagte uitkoms” voort te bring, as gevolg van sy ouderdom.

So sal Oscar ook finansieel onafhanklik word.

“Die beskuldigde moet onbevoeg verklaar word om vuurwapens te besit,” het Mashaba gesê.

“Daar moet streng voorwaardes algemeen in korrektiewe toesig wees.”