Die tronk sal net ’n negatiewe uitwerking op Oscar Pistorius hê en hom trouens in gevaar plaas. Dit sal hom nie help nie; dit sal hom breek het die hof vanoggend gehoor.

[caption id="attachment_85917" align="alignnone" width="620"]Foto: Themba Hadebe/AP/Sapa Foto: Themba Hadebe/AP/Sapa[/caption]
Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius moet drie jaar korrektiewe toesig opgelê word vir die skietdood van sy meisie, Reeva Steenkamp, het ’n proefbeampte Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria gesê.
'Korrektiewe toesig bied straf met ’n hoë strafwaarde.'

“Korrektiewe toesig bied straf met ’n hoë strafwaarde; dit is nie ligte straf nie,” het Annette Vergeer tydens ondervraging deur adv. Barry Roux, vir Oscar, gesê.

Soos sy vinnig deur haar verslag gelees het, het Reeva se niggie Kim Martins in die openbare galery gesit en huil.

Annette het gesê ’n tronkomgewing is nie geskik vir iemand met Oscar se gestremdheid nie.

Hy sou met sy stompies op harde sementvloere moet loop, daar is nie baddens nie en daar is nie handrelings in die storte nie. “Dit sal net ’n negatiewe uitwerking hê en hom trouens in gevaar plaas. Dit sal hom nie help nie; dit sal hom breek,” het sy oor tronkstraf gesê.

Op 12 September is Oscar skuldig bevind aan strafbare manslag nadat hy Reeva doodgeskiet het. Hy het aangevoer hy het gedink daar is ’n inbreker in sy toilet toe hy op Valentynsdag verlede jaar vier skote deur die deur afgevuur en Reeva getref het. Die staat voer aan hy het haar tydens ’n rusie doodgeskiet.

Annette het gesê Oscar is steeds redelik jonk, is ’n eerste oortreder en het herhaaldelik berou getoon en verantwoordelikheid vir sy optrede aanvaar. “Die beskuldigde blyk nie so ’n groot gevaar vir die samelewing te wees dat hy verwyder moet word nie.”