Voor adv. Barry Roux die saak gesluit het, het hy gesê talle getuies wou nie vir Oscar kom getuig nie bloot weens die publisiteit verbonde aan die saak.

Regt. Thokozile Masipa het die saak tot 7 Augustus vir betoë uitgestel. Die saak gaan na verwagting twee dae duur; dit is hoe lank die staat en verdediging se betoë waarskynlik sal duur.

Die staat moet hul argumentshoofde teen 30 Julie by regt. Masipa inhandig, terwyl die verdediging dit teen 4 Augustus moet doen.

Voor regt. Masipa die saak uitgestel het, het sy ’n bevel gemaak dat geen inhoud van die argumentshoofde in die druk- of elektroniese media gepubliseer mag word voor dit in die hof argumenteer is nie. Adv. Gerrie Nel, vir die staat, het regt. Masipa gevra om die bevel te maak.

“Dit is kommerwekkend, maar ek weet dit gebeur. Dokumente word uitgelek. Behalwe dat dit geregtigheid ’n onreg aandoen, is enigiemand wat ’n uitgelekte dokument gebruik, ’n dief,” het regt. Masipa gesê.

- Hilda Fourie