Op die eerste herdenking van Reeva Steenkamp se tragiese dood, het Oscar Pistorius sy eerste twiet sedert daardie noodlottige dag op 14 Februarie 2013 gestuur.

Die twiet bevat ’n skakel na Pistorius se webtuiste waar hy ’n verklaring gepubliseer het.

In die verklaring sê hy dat geen woorde kan voldoende uiting gee aan sy gevoelens oor die "rampspoedige ongeluk wat soveel hartseer veroorsaak het vir almal wat Reeva (Steenkamp) opreg liefgehad het en steeds liefhet".

"Die pyn en droefheid - veral vir Reeva se ouers, familie en vriende - verteer my met smart," sê die Paralimpiese atleet in 'n kort verklaring.

"Ek sal die verlies van Reeva en die volslae trauma van daardie dag die res van my lewe met my saamdra."

Pistorius sal op 3 Maart voor regter Thokozile Matilda Masipa verskyn op aanklagte van moord en drie oortredings ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens.