'Dit was ’n lang, duur hofsaak.'

Regt. Thokozile Masipa het die 27-jarige vrygespreek van die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp.

Maar sy het bevind Oscar was nalatig toe hy vier skote op ’n toiletdeur skiet en Reeva om die lewe bring.

Hier is enkele aanhalings van die dag:

  1. “Voor vandag het die beskuldigde gedink hy gaan vrygespreek word.” – die aanklaer Gerrie Nel.
  2. “Op hierdie tydstip is die saak nie afgehandel nie. Ons wag nog vir die vonnisoplegging. Eers daarna kan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) hul opsies oorweeg en sien of hulle die saak verder kan voer.” – die NVG-woordvoerder Nathi Mncube.
  3. “Dit was ’n lang, duur hofsaak.” – Oscar se regsverteenwoordiger adv. Barry Roux verduidelik dat die atleet sy eiendomme verkoop het om sy regskoste te dek.
  4. “Die eenparige besluit van die hof is soos volg: aanklag een, moord: Die beskuldigde is onskuldig. Hy is eerder skuldig aan strafbare manslag.” – regt. Thokozile Masipa.
  5. “Daar is geen basis vir hierdie hof om die afleiding te maak dat die beskuldigde die oorledene wou doodmaak nie. Die beskuldigde se optrede kort ná die voorval is strydig met iemand wat moord wou pleeg.” – Masipa.
  6. “Dit kan nie gesê word nie dat hy (Oscar) voorsien het dat die oorledene of iemand anders sou sterf as hy op die deur geskiet het nie.”
  7. “Die staat kon nie bewys dat die beskuldigde bo redelike twyfel skuldig is nie en (hy moet) vrygespreek word. Dit voldoen nie aan die standaardvereiste vir ’n skuldigbevinding nie.” – regt. Masipa oor aanklag twee, ’n voorval waartydens Oscar op 30 September 2012 na bewering ’n pistool deur ’n motor se sondak afgevuur het.
  8. “Die staatsgetuies het mekaar oor belangrike sake weerspreek.” – regt. Masipa rakende die getuienis vir aanklag twee.
  9. “Die staat het bo redelike twyfel bewys dat die beskuldigde ’n artikel van die wet oortree het.” – regt. Masipa rakende aanklag drie, dat Oscar die Vuurwapenbeheerwet oortree het toe hy in Januarie verlede jaar in die restaurant Tasha’s in Melrose Arch, Johannesburg, ’n pistool onder ’n tafel afvuur.
  10. “Hy kan dus nie hieraan skuldig bevind word nie.” – regt. Masipa met verwysing na aanklag vier, die onwettige besit van ammunisie.