Hy was die eerste dubbele geamputeerde wat aan so ’n byeenkoms deelgeneem het, maar amper ’n jaar later is hy aangekla weens die moord op sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp.

Sy is op Valentynsdag verlede jaar deur die geslote toiletdeur in die atleet se huis in Pretoria geskiet.

Vanweë die koolstofvesel-prosteses waarmee hy hardloop, het hy die bynaam Blade Runner gekry, en die Paralimpiese atleet was aan die einde van die vorige jaar op sy gewildste.

Oscar se prestasies sluit in goue medaljes op die Paralimpiese Spele van 2012, en deelname aan die Olimpiese Spele – die eerste dubbele geamputeerde wat aan so ’n byeenkoms deelgeneem het.

Hier is die belangrikste datums in sy gedaantewisseling van wêreldbekende atleet tot moordbeskuldigde:

14 Februarie 2013: Omstreeks agtuur die oggend word dit bekend Oscar het sy meisie geskiet nadat hy haar vir ’n inbreker aangesien het. Die polisie bevestig later hulle het Oscar in hegtenis geneem en het ’n 9 mm-pistool op die toneel gekry.

Teen laat oggend het die polisie bevestig die slagoffer is die 29-jarige model Reeva Steenkamp. Hulle sê hulle sal borgtog teenstaan wanneer Oscar in die hof verskyn.

15 Februarie: Nadat hy die nag in in polisieaanhouding deurgebring het, kom Oscar voor in die Pretoriase landdroshof. Aanklaers maak bekend hulle gaan ’n aanklag van moord met voorbedagte rade aanvoer. Sy borgtogaansoek is beplan vir 19 Februarie.

17 Februarie: Oscar se agent, Peet van Zyl, sê Oscar het aan alle byeenkomste onttrek waaraan hy beplan het om deel te neem.

19 Februarie: Reeva Steenkamp se begrafnis word in Port Elizabeth gehou. Oscar maak sy eerste verskyning in sy borgaansoek. Die aanklaer, Gerrie Nel, sê Oscar het vier skote deur ’n badkamerdeur geskiet en Reeva is drie keer getref. Oscar se verdediging sê hy het gedink Reeva is ’n inbreker. Oscar ontken hy het Reeva opsetlik geskiet.

22 Februarie: Landdros Desmond Nair staan Oscar borgtog van R1 miljoen toe. Van die voorwaardes is dat hy sy paspoort indien asook enige wapens in sy besit.

28 Februarie: Oscar verskyn op die voorblad van die Maart-uitgawe van Time Magazine in die VSA, Asië en die Stille Suidsee. Oor sy foto staan die woorde Man Superman Gunman.

11 Maart: Oscar se prokureurs appelleer teen sy borgvoorwaardes.

28 Maart: Die hooggeregshof in Pretoria versag Oscar se borgvoorwaardes sodat hy die land kan verlaat as hy aan buitelandse byeenkomste wil deelneem.

19 Augustus: Op die dag waarop Reeva 30 sou geword het, verskyn Oscar in die landdroshof voor landdros Desmond Nair sodat die staat se akte van beskuldiging op hom bestel kan word. Hy staan tereg weens moord met voorbedagte rade en oortredings van die Vuurwapenbeheerwet. Saam met die akte was daar ’n lys met meer as 100 moontlike getuies. Die verhoor sou van 3 tot 20 Maart in die hooggeregshof in Pretoria plaasvind.

14 Februarie 2014: Op die eerste herdenking van Reeva se dood plaas Oscar ’n boodskap op sy amptelike webtuiste, oscarpistorius.com, wat lui: “Daar is geen woorde om te beskryf hoe ek voel oor die verwoestende ongeluk wat soveel hartseer veroorsaak het vir almal wat Reeva liefgehad het – en haar steeds lief het.” Oscar twiet die eerste keer sedert 13 Februarie 2013.

19 Februarie: Mediagroepe vra die hooggeregshof toestemming om Oscar se moordverhoor uit te saai. Op 2 Maart, die dag voor die verhoor begin, word ’n 24-uur-TV-kanaal op DStv van stapel gestuur. Verlof om die verhoor regstreeks uit te saai, word met sekere voorwaardes toegestaan.

3 Maart: Die verhoor begin in die hooggeregshof in Pretoria. Oscar pleit onskuldig op alle aanklagte.

25 Maart: Die staat sluit hul saak nadat hulle 21 van die 107 getuies op die lys geroep het. 8 Julie: Regt. Thokozile Masipa beveel dat daar geen hoofde van betoog voor die aanvang van die argumente in die hof in die druk- of elektroniese media gepubliseer mag word nie. 12 Julie: Oscar en die Johannesburgse sakeman Jared Mortimer is na bewering in ’n onderonsie by ’n nagklub in Sandton betrokke. 13 Julie: Oscar twiet ’n aantal foto’s.

30 Julie: Die staat dien hul slotbetoë in.

4 Augustus: Die verdediging dien hul slotbetoë in.

7 en 8 Augustus: Die staat en verdediging bied hul slotbetoë aan. Sowel Oscar as Reeva se pa maak hul eerste verskyning in die hof. Barry Roux, SC, vir Oscar, beskuldig die staat daarvan dat hulle selektief is met die bewyse wat hulle vir hul saak aanvaar en oorweeg, en dat hulle belangrike kwessies ignoreer wat in die saak geopper is. Die aanklaer, Gerrie Nel, sê Oscar moet skuldig bevind word aan moord omdat hy gewys het hoe “onbetroubaar en bedrieglik” hy is. 8 Augustus: Oscar twiet die volgende: “Dankie aan my geliefdes en dié wat my bygestaan het, wat my opgebeur het en deur alles gehelp het.”

10 Augustus : Oscar twiet die volgende: “Here, ek weet U het ’n plan vir almal wat swaarkry; gee hulle asseblief vrede en help hulle glo.”

11 September: Uitspraak gaan na verwagting gelewer word.