En vanoggend het Fanny Hendricks gewys sy is, met almal se oë op haar, net so gemaklik in Tswana as in Afrikaans en Engels – met haar sterk aksent wat dit soms vir die oorsese joernaliste ’n bietjie moeilik maak om die verrigtinge te volg.

Al was Fanny se dienste lank nie nodig nie, was sy elke dag in die hof. Soms met kougom in die mond, soos die joernalis Alex Crawford van SkyNews terloops opgemerk het.

Soms het sy ’n vinnige uiltjie geknip, maar meestal was sy op en wakker, reg agter die getuie. Dié plek het sy op die tweede dag van Oscar se moordverhoor ingeneem nadat die eerste tolk koue voete gekry het en die tweede tolk in trane uitgebars het toe sy keer op keer nie die getuienis woordeliks kon weer gee nie.

Van die eerste oomblik dat Fanny langs die getuie gaan staan en begin tolk het, was sy selfversekerd, al het sy hier en daar ’n fout gemaak. Selfs toe oudkol. Schoombé van Rensburg, ’n voormalige stasiebevelvoerder van die Boschkop-polisiekantoor, tydens sy getuienis van Afrikaans, sy moedertaal, na Engels oorgeskakel het en aan Fanny gesê hy het nie meer haar hulp nodig nie, het sy steeds ’n glimlag op haar gesig gehad.

Vandat Fanny as hoftolk oorgeneem het, gons dit op die sosiale media oor haar, veral omdat haar Engels met ’n aksent vir oorsese joernaliste ’n bietjie moeilik op die oor is.

Aislinn Laing, ’n joernalis van die Telegraph in Brittanje, noem Fanny die tolk met die vreemde aksent. “Ek kan haar hoor, maar of ek haar kan verstaan, is ’n ander saak”, het sy getwiet.

Andrew Harding van die BBC het getwiet Fanny het ’n wonderlik dik aksent.

Tom Peck, ’n joernalis by die Independent in Brittanje, het getwiet: “Die tolk wat geheel en al uit haar neusholte praat, is terug.

Verbeel jou ’n pterodaktiel se kloue word oor ’n swartbord getrek.”

’n Kennis wat in die afgelope drie weke saam met haar in die hof was, sê wanneer jy met Fanny gesels, kry jy nie die idee dat die tolkery vir haar erg is nie.

“Sy skryf baie van die woorde neer wat sy nie kan vertaal nie, en dan vra sy rond vir die regte woord. Sy is ’n heel goeie siel,” sê die kennis.

En oor Oscar? “Sy kry Oscar baie jammer. Sy sê net God kan oordeel,” sê die kennis.

- Hilda Fourie