Regter Thokozile Masipa het Dinsdag tydens haar uitspraak oor watter vonnis gepas is vir Oscar Pistorius die verdediging se kenner oor toestande in Suid-Afrikaanse tronke verwerp.

Die maatskaplike werker en toesigbeampte, Annette Vergeer, se getuienis is deur die hof as teleustellend beskryf "vir iemand met 28 jaar ondervinding".

Masipa het gesê dat sy wel beïndruk was met Moleko Zacharia Modise, waarnemende nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, se getuienis en dat sy tevrede is dat die department van korrektiewe dienste (DKD) toegerus is vir gevangenes met spesiale behoeftes.

Sy het gesê die DKD word gelei deur die Grondwet.

"As 'n gevangene verkeerd behandel word, mag hy howe nader om hulp."

In haar uitspraak het sy ook gesê: "Dit sal 'n hartseerdag vir SA wees as een wet geld vir die armes, en 'n ander vir die rykes en beroemdes."

Moleko was een van adv. Gerrie Nel se getuies.