Die musiekgroep Die Antwoord het die laaste paar dae die internet op hol gehad met sy nuwe musiekvideo vir die liedjie Banana Brain, wat 'n hele paar verwysings maak na die skietdood van die model Reeva Steenkamp en die tronkstraf wat Oscar Pistorius daarvoor uitdien.  

Kritici was vinnig op hul perdjie en het na die groep gekap deur die video as gevoelloos en in swak smaak te bestempel.

Die sielkundige dr. Löre Hartzenberg, wat Oscar voor die verhoor ondersoek en ook getuig het, het ook haar teleurstelling daaroor uitgespreek.

"Musiek is 'n wonderlike medium met baie mag en invloed oor mense se kultuur, maar dit beïnvloed ook hul psige en denke. "Die Antwoord is 'n omstrede groep wat homself op 'n sekere manier bemark. Dit is goed en wel, maar as jy deur jou musiek ander se menswaardigheid aantas en tragedie uitbuit, is dit nie reg nie."

Sy sê die tragedie rondom Oscar en Reeva is nie Die Antwoord se storie om te vertel nie.

"Ek dink nie hul besluit om hierdie gebeure in hul video te wys, is toevallig nie. Dit was om aandag te trek en geld te maak," meen sy.

"Ek sê nie kuns moet aan bande gelê word nie, maar hierdie video kan haat aanwakker. Daar is reeds soveel irrasionele denke en gevoelens by die saak betrokke en niemand sit draad nie. Almal het 'n opinie." Löre is 'n gerekende forensiese sielkundige wat al in heelparty ander sake getuig het. "Ek het nog nooit so iets gesien nie. Niemand wat in daardie hof gesit het, het sonder 'n opinie daar gesit nie. Dit het persoonlik geraak." Sy sê selfs die vryste kunstenaars moet binne perke optree. "Dis vir my geheel en al onaanvaarbaar en onvanpas. Dit oorskry die grense en ek glo nie hulle het die geloofwaardigheid om so iets aan te pak nie."