Oscar Pistorius het vandag vir die eerste keer sy weergawe vertel van wat op Valentynsoggend verlede jaar gebeur het.

Hy het dit gedoen terwyl hy net ’n kortbroek en ’n hemp aangehad het, wat hy kort tevore aangetrek het. Net voor hy begin getuig het, het hy sy prostese uitgetrek en in die hof by die badkamerdeur gaan staan waardeur hy Reeva Steenkamp daardie oggend doodgeskiet het.

Dié dramatiese gebeure het vanoggend in die hooggeregshof in Pretoria tydens Oscar se moordverhoor afgespeel.

Oscar het vertel hoe hy en Reeva die vorige aand ’n doodnormale aandjie tuis deurgebring het. Sy het kos gemaak. Hy het gaan bad. Hy het op sy iPad op die internet na motors gekyk.

Hulle het saam geëet, gesels en toe kamer toe gegaan. In die kamer het hulle gelê en gesels, op hul selfone met ander mense gesels en TV gekyk.

Oscar het die kamerdeur gesluit, ’n krieketkolf voor die deur gesit en die alarm aangeskakel voor hulle tussen nege- en tienuur gaan slaap het.

In die oggendure het Oscar wakker geword.

“Reeva het omgerol na my toe en vir my gesê: ‘Kan jy nie slaap nie, my baba?’

“Ek het gesê ek kan nie slaap nie. Ek het opgestaan en die waaiers ingebring; die waaiers was aan.

“Ek het die venster in die badkamer hoor oopgaan. Dit was toe alles verander het.”

Oscar het vir Reeva gesê sy moet platlê en die polisie bel.

“Die eerste wat ek gedink het, was om my te bewapen om my en Reeva te kan beskerm,” het Oscar getuig.

Oscar het sy vuurwapen by sy bed gekry en in die gang af na die badkamer toe geloop. Hy sê hy het aan die persoon wat hy gedink het die inbreker was, geskree om uit die huis te gaan. Hy het ook vir Reeva geskree om plat te lê en die polisie te bel.

“Vrees het my oorkom. Ek wou keer dat die inbreker die huis binnekom en by Reeva uitkom.

“Nog voor ek by die badkamer gekom het, het ek die toiletdeur hoor toeklap.”

Oscar was vreeslik emosioneel terwyl hy oor dié gebeure getuig het. Die trane het veral geloop terwyl sy regsverteenwoordiger, sr. adv. Barry Roux, hom foto’s gewys het van die gang en die badkamervenster.

Voor Oscar oor die skietery kon vertel, het die hof vir middagete verdaag.

- Hilda Fourie