Of hy skuldig of onskuldig is, kan niemand nog sê nie. Dit is wel onbetwisbaar: Die glorieryke lewe van Oscar Pistorius het binne een bloedige uur in ellende verkrummel.

Wie die man midde-in dié haas ongelooflike drama werklik is, sal in die dae en maande vorentoe veel duideliker word.

Ons weet wel reeds: Ondanks sy glansbeeld na buite was hy geensins almal se liefling nie. Nou, ná die tragiese koeëldood van sy vriendin, Reeva Steenkamp, is daar ook bewerings van verwaandheid, humeurigheid, selfs aggressie. “Ons sien dikwels op na mense wat sukses bereik, want hulle dien as inspirasie,” sê Rakhi Beekrum, ’n Durbanse beradingsielkundige, “maar hulle is ook maar net mense, almal met hul goeie en slegte eienskappe.” Skuldig of onskuldig, wat het Oscar gevorm en hom voortgestu tot waar hy hom nou bevind, in die hof op ’n aanklag van moord? Ons het met kenners gesels. Sy gestremdheid

Hy is gebore met gebrekkige bene en dié is op 11 maande onder die knie geamputeer. Op 17 maande het hy sy eerste stel kunsbene gekry.

[caption id="attachment_69508" align="alignnone" width="431"]'n Foto van Oscar en sy ouer broer, Carl, uit ’n artikel wat Huisgenoot in 2005 gepubliseer het. 'n Foto van Oscar en sy ouer broer, Carl, uit ’n artikel wat Huisgenoot in 2005 gepubliseer het.[/caption]

“Van daardie dag af het ek onoorwinbaar geword, ’n wilde kind,” vertel hy in sy boek Oscar: Die Verhaal van Oscar Pistorius, wat meer as drie jaar gelede gepubliseer is.

“My energie was onuitputbaar en ek het geen rede gesien hoekom my nuwe bene my nie oral heen kan vat waar ek ou wees nie. Ek glo dit was die tyd in my lewe dat my persoonlikheid gevorm het.” Hy het vir die radioverslaggewer David O’Sullivan gewys hoe hy sy prosteses kleintyd verrinneweer het toe hy kaskar gery en as ’n tiener toe hy op ’n motorfiets gery het sonder dat hy besef die uitlaatpyp het sy been aan die brand gesteek. Wanneer maats in die veld gehuil het oor skrape en dorings, het hy gelag en na die gate aan sy kunsbene gewys.

'Hy wou hom bewys as iemand wat leef met ’n gestremdheid en nie ’n gestremde is nie.'

“Wat ’n feit is,” sê Dorianne Weil (Dr. D), ’n Johannesburgse kliniese sielkundige, “is dat hy ontsettend gefokus, vasberade en veerkragtig is. Hy wou hom bewys as iemand wat leef met ’n gestremdheid en nie ’n gestremde is nie.

Hy het baie hard gewerk om te bewys hy kan vermag wat enige Olimpiese atleet kan vermag.”

Iemand met sulke karaktertrekke sukkel om tekens van swakheid en kwesbaarheid te wys. By gebrek aan ’n uitlaatklep vir hul emosies, kan hul woede soms tot geweld lei. “Hy het verhoudings met modelle, wat die kruin van liggaamlike volmaaktheid verteenwoordig, terwyl hy ondanks roem nooit liggaamlik volledig sal voel nie,” sê Jorgan Harris, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad. “Rykdom en vinnige motors kan byvoorbeeld nooit as plaasvervangers vir sy liggaamsgebrek dien nie. So iemand kan, ondanks groot sukses, steeds minderwaardig en bedreig voel.” Sy ouers se egskeiding

Oscar Pistorius se ma, Sheila, en pa, Henke, is geskei toe hy sewe jaar oud was. Dit kon ’n vormende invloed op hom gehad het, meen dr. Akashni Maharaj, ’n Durbanse beradingsielkundige.

Hy voel dalk vandag nog onbewustelik, soos kinders soms maak, dat hy skuld gehad het aan die egskeiding, en hy het dit dalk nou nog nie verwerk nie, meen sy.

“As kinders het ons in ’n groot huis gebly en was ons tot in die afgrond bederf, en tot my ouers geskei het en ons moes afskaal, het ons nie geweet van swaarkry nie,” skryf hy in sy boek. [caption id="attachment_69510" align="alignnone" width="360"]Oscar en sy pa in 2005. Oscar en sy pa in 2005.[/caption] Sy pa se bankrotskap ná die egskeiding het ’n einde aan dié idilliese gesinslewe gebring en hulle moes ’n hele ruk lank hul sente omdraai.

'Oscar het ’n soms moeilike verhouding met sy pa, Henke, wat amper meer ’n vriend as ’n pa is.'

Oscar het ’n soms moeilike verhouding met sy pa, Henke, wat amper meer ’n vriend as ’n pa is, het hy aan David vertel. Dit is verder bemoeilik toe sy pa ook sy bestuurder geword het. Tog sê ’n bron na aan Henke bespiegelings dat pa en seun nie ’n goeie band het nie, is onsin. Henke was een van die eerstes wat Oscar in sy krisis-oomblik gebel het. Henke weet hoe hard sy kind moes werk om bo te kom en sal dit nie duld dat iemand sy kind benadeel nie. Dis hoekom hy nou sy seun sal bystaan met alles wat hy kan, sê die kennis. Verhouding met sy ma

“Sy was dinamies en charismaties en is steeds ’n inspirasie vir ons almal,” vertel Oscar altyd van sy ma. Sheila is op 6 Maart 2002 oorlede weens komplikasies ná ’n operasie.

Hy was 15 en het dit baie moeilik verwerk.

Sedertdien het hy selfs haar geboorte- en sterftedatum op sy arm laat tatoeëer. [caption id="attachment_69503" align="alignnone" width="460"]Oscar as baba op die skoot van sy ma, Sheila. Sy ouers is geskei toe hy  sewe jaar oud was en Sheila is oorlede toe hy 15 was. Oscar as baba op die skoot van sy ma, Sheila. Sy ouers is geskei toe hy sewe jaar oud was en Sheila is oorlede toe hy 15 was.[/caption] Ná sy ma se dood het die kinders naweke by haar suster, Diane, gebly. Oscar se suster, Aimée, het by haar gebly terwyl sy skool klaargemaak het, maar Oscar en sy ouer broer was jare lank sonder vaste blyplek.

'Hy probeer steeds aan haar bewys hoe dapper hy is.'

Hulle het kort rukkies in koshuise, by Diane se huis en by vriende ingewoon. “Sy ma is waarskynlik steeds sy rolmodel,” sê Akashni. “Ek vermoed hy probeer steeds aan haar bewys hoe dapper hy is. Dit kan veroorsaak dat sy gedrag waaghalsig en gevaarlik raak.”

Dr. Hermann Liebenberg, ’n sielkundige van Centurion, meen so ’n verlies kon hom as kind met die onbewuste opvatting gelaat het dat sy ma hom as’t ware “in die steek gelaat het”.

Dié opvatting kon moontlik sy verhouding met vroue beïnvloed het omdat hy kon gevoel het die belangrikste vrou in sy lewe het hom voortydig verlaat.

- Pieter van Zyl & Lara Atson

  • Ekstra Bronne: THE TELEGRAPH, OSCAR: DIE VERHAAL VAN OSCAR PISTORIUS DEUR OSCAR PISTORIUS, 2009 UMUZI/RANDOM HOUSE STRUIK