“Daar is nie ’n verbod op Oscar om openbare verklarings te maak nie, hetsy via Twitter of op ander maniere nie,” het Dario Milo gesê.

“Dit staan hom vry om dit te doen en daar kan geen voorstel wees dat hy in minagting van die hof is nie. Sy kommentaar op Twitter hou in elk geval nie veband met die hofsaak nie.”

Oscar, wat teregstaan weens die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, het Sondag ’n Bybelvers getwiet, asook ’n foto-collage van sy humanitêre werk en ’n uittreksel van Victor Frankl se boek Man’s Search for Meaning.

Victor, wat in 1997 oorlede is, was ’n Oostenrykse neuroloog en psigiater, en het die menseslagting van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog oorleef.

Deel van die teks lees: “The salvation of man is through love and in love. I understood how a man who has nothing left in this world still may know bliss, be it only for a brief moment, in the contemplation of his beloved.

“In a position of utter desolation, when man cannot express himself in positive action, when his only achievement may consist in enduring his sufferings in the right way – an honourable way – in such a position man can, through loving contemplation of the image he carries of his beloved, achieve fulfilment.”

Die Bybelvers, Psalm 34:18, lees: “Die Here is naby dié wat gebroke is van hart.”

Die verdediging in Oscar se moordsaak het verlede week in die hooggeregshof in Pretoria sy saak gesluit. Sluitbetoë gaan na verwagting op 7 Augustus gelewer word.

Die atleet beweer hy het Reeva op Valentynsdag verlede jaar per ongeluk deur ’n geslote badkamerdeur in sy huis in Pretoria geskiet. Hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval.

Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Oscar het ’n maandlange psigiatriese evaluasie by die Weskoppies psigiatriese hospitaal ondergaan. Agterna het die hof gehoor hy ly nie aan algemene angsteuring nie, soos ’n psigiater vir die verdediging getuig het.