“Oscar kry swaar, maar die familie staan hom by en help hom voorberei vir die hofsaak,” het Arnold Pistorius, Oscar Pistorius se oom, gisteraand op die aktualiteitsprogram Carte Blanche gesê oor die Paralimpiese kampioen se gemoedstoestand. Oscar verskyn môre in die hof vir die moord op sy vriendin, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag vanjaar. Die hofsaak sal volgens alle verwagtinge uitgestel word tot later vanjaar.

Toe die aanbieder Derek Watts Arnold vra of hy Oscar sien rou, het hy sy kop liggies geskud en geantwoord: “Ek het hom vanoggend sien huil, voor ons begin oefen het. Dis standaard-prosedure, ons lees ’n Bybelstukkie en bid. Hy rou. Dit is so ’n persoonlike ding dat dit vir my moeilik is om daaroor te praat, maar hy gaan deur ’n baie moeilike tyd.”

Arnold het bygevoeg Oscar het steeds foto’s van Reeva teen sy kamermuur en dat sy profielfoto op die kletsprogram WhatsApp ook steeds ’n foto van hom en die blonde model is.

“Sy optrede was om te beskerm in ’n toestand van uiterste weerloosheid, sonder sy prostese,” het Arnold gesê. “En jy kan jou indink . . . dis die persoon vir wie jy die liefste is en jy is die instrument van haar dood. Dit is ondenkbaar. Dit is ’n diep, diep hartseer. Hy rou elke dag.”

Oscar se pastoor kom besoek hom weekliks, het Arnold vertel, en die atleet het ook al sielkundige berading ontvang. “Die familie staan almal agter hom, selfs die uitgebreide familie. Daar is by my geen twyfel dat hy nie ’n moordenaar is nie.”

Oor die druk wat daar sedert die moord op Reeva op Oscar se familie is, het Arnold net gesê: “Die lewe sit druk op ’n mens. Daar is mense met baie meer druk op hulle. Ons is net dankbaar vir wat ons het en dankbaar dat ons in ’n posisie is om Oscar te kan bystaan.”

Volg ons Dinsdag, 4 Junie, op Twitter vir regstreekse verslaggewing uit die hof:

www.twitter.com/huisgenoot