Die gewese Paralimpiese atleet se aanvanklike hofsaak het intense openbare aandag gekry, wat die betroubaarheid en objektiwiteit van getuies en verrigtinge in ’n nuwe saak kan “besoedel en verwar”.

Oscar het boonop geen “finansiële vermoëns” vir ’n nuwe hoofsaak nie, het Barry gesê. Ook staar die risiko van dubbele blootstelling hom in die gesig omdat hy weer weens moord aangekla kan word op dieselfde feite – ’n aanklag waarop hy reeds vrygespreek is.

Die dokumente was in reaksie op die staat se argument dat Oscar skuldig bevind moet word weens die moord op sy meisie Reeva Steenkamp. Die appèlhof sal in November die saak aanhoor.

Barry sê as die appèlhof met die staat se argument saamstem, sal die enigste benadering wees om dit te oorweeg om die saak vir ’n nuwe verhoor te verwys. Die staat het onder meer aangevoer dat regter Thokozile Masiple die beginsel van dolus eventualis verkeerd toegepas het toe sy Oscar aan strafbare manslag skuldig bevind het.

Thokozile het die staat in Desember 2014 verlof tot appèl toegestaan en gesê haar uitspraak van strafbare manslag was gegrond op haar interpretasie van die wet. Appèl kan toegestaan word op grond van vrae oor die wet, nie op die interpretasie van die feite van die saak nie.

Barry voer aan die staat probeer Thokozile se bevinding aanval dat Oscar nie bedoel het om Reeva dood te maak nie, en dat die staat dit nie mag doen nie.

Die staat voer in dokumente aan Oscar moes voorsien het dat sy optrede iemand se dood kon veroorsaak, dat hy homself daarby berus en toe vier skote deur sy geslote toiletdeur afgevuur het. Hy het “die bedoeling gehad om dood te maak in die vorm van dolus eventualis. Hy het met iemand anders se lewe gedobbel.”

Barry sê die beginsel van dolus eventualis sou geld as Oscar voorsien het dat Reeva in die toilet kon wees toe hy die eerste skote afgevuur het. Thokozile het egter bevind Oscar het geglo sy was op daardie oomblik in die kamer.

Oscar het op Valentynsdag 2013 vier skote deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria afgevuur omdat hy glo gedink het daar is ’n inbreker binne wat hom sou aanval. Thokozile het hom in op 21 Oktober 2014 vir vyf jaar tronk toe gestuur weens Reeva se skietdood en vir drie jaar – opgeskort vir vyf – weens die afvuur van ’n vuurwapen in die restaurant Tasha’s.

Die paroolhersieningsraad sal na verwagting Vrydag vergader om te besluit of Oscar die res van sy tronkstraf in huisarres kan uitdien. Hy sou op 21 Augustus vrygelaat word, maar die minister van justisie, Michael Masutha, het gesê die raad het voortydig opgetree toe hulle die datum vasgestel het.

Bron: News24