“Mense is geneig om te vergeet wat hy gedoen het en te fokus op die ongelukkige voorval wat gebeur het,” het Ofentse Woensdag gesê.
'Hy het baie vir die land en vir gestremdes beteken.'

“Hy het baie vir die land en vir gestremdes beteken. Hy het baie mense laat glimlag. Hy kon Suid-Afrika in die wêreldkollig plaas. Ek dink beslis sy bydrae sal die toets van die tyd deurstaan. Mense sal nooit vergeet nie.”

Ofentse was deel van die span in die 4 x 400 m-aflos by die Olimpiese Spele in 2012 in Londen waar Oscar die eerste dubbel geamputeerde atleet geword het wat aan baannommers vir sowel niegestremdes as gestremdes deelgeneem het.

In 2011 was die twee deel van die 4 x 400 m-aflosspan – saam met Willie de Beer en Shane Victor – wat ’n nuwe nasionale rekord van 2:59,21 opgestel het by die IAAF-Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Daegu, Suid-Korea. Die 32-jarige Ofentse was gereeld Oscar se oefenmaat terwyl hy vier jaar aan die Universiteit van Pretoria se atletiekstadion deurgebring het, waar hulle onder die vaandel van Atletiek Noord-Gauteng deelgeneem het. Ofentse sê die voorval waarin Oscar Reeva Steenkamp op Valentynsdag verlede jaar geskiet het, oorskadu die nalatenskap wat hy in die Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis daargestel het.

'Jy vergeet hy is dieselfde mens wat so baie vir die trots van die land gedoen het.'

“Die eerste ding wat by jou opkom wanneer jy oor Oscar dink, is dat hy die ou is wat sy meisie doodgeskiet het, en jy vergeet hy is dieselfde mens wat so baie vir die trots van die land gedoen het.”

Die 400 m-spesialis sê hy het Oscar probeer vertroos toe hy hom onverwags raakgeloop het.

“Ek het in Desember verlede jaar met hom gesels toe ek hom in die gim raakloop. Ek het vir hom probeer sê goed gebeur in die lewe. Dis moeilik om met iemand in daardie situasie te praat.”

Ofentse sê hy was regdeur die verhoor in die hooggeregshof in Pretoria verdeeld oor wat om te doen.

“Aan die een kant voel jy jy moet saam met hom daar wees en hom ondersteun, maar terselfdertyd moet ’n mens hom ruimte gee sodat hy dit alles kan deurmaak.”

Die bekendheid wat daarmee gepaardgegaan het om ’n ster-atleet te wees, was moeilik, want elke beweging wat hy gemaak het, is fyn dopgehou, sê Ofentse.

“Een verkeerde besluit en jy word daarvoor gekruisig, veral wanneer jy in die openbare oog is.”

Ofentse sê atlete is gedurig onder druk om te presteer, en die las van verwagting beïnvloed soms jou emosies.

“Wanneer jy ’n sportmens is, is dit anders as wanneer jy ’n gewone mens is. As atlete is ons streng met onsself en soms reageer ons anders (op dit wat gebeur).

“Ons het ons eie druk wat ons moet hanteer. As ons oefening op ’n sekere dag nie goed verloop nie, kan ons streng wees met onsself en die mense om ons. Jy voel sleg en kan kwaad raak omdat jy ’n goor dag op die baan beleef het.”

Hy sê die meeste mense verstaan nie die uitdagings wat atlete moet oorkom wanneer hulle vir die land meeding nie.

“Wanneer ons oorsee deelneem, is ons soos troepe wat in ’n vreemde land ontplooi word. Ons laat alles agter, ons vroue en kinders, om die hele land te verteenwoordig.

“Ons gaan haal alles uit vir die eer en trots van die land.”

- Sapa