Gianni is die Italiaanse spookskrywer van Oscar se biografie, Blade Runner. “Hy het vertel vroue het altyd ’n belangrike rol gespeel in sy lewe,” se Gianni. “Hy was baie geheg aan sy ma en sy suster, Aimée.

“Hy was in die openbare oog saam met ’n bekende en dit was nie goed vir hom nie. Hy het ’n sterk ma en ek dink hy het so ’n vrou gesoek, maar hy kon haar nie onder bekendes kry nie.”

Dis duidelik dat Oscar ’n sagte plek vir blondines het. Die meeste vroue met wie hy uitgegaan het, het blonde hare en breë glimlagte.

Vicky Miles was die liefde van sy lewe, het Oscar eenkeer gesê. Hy het met haar uitgegaan lank voor hy ryk en bekend was. Gianni onthou die gebeure wat veroorsaak het dat hy Oscar ’n “manjifieke barbaar”genoem het. In Desember 2005 het Oscar in die nag 650 km van Durban gejaag om by haar te wees nadat hulle oor die telefoon rusie gemaak het. Hy het sy motor afgeskryf nadat hy agter die stuurwiel aan die slaap geraak het.

Oscar het in 2006 op Valentynsdag 200 gekleurde ballonne opgeblaas en in die bome langs Vicky se inrypad en aan haar heining opgehang. Hy het met spuitverf in die straat geskryf: I love you, Tiger.

Die opgeruimde blondine Jenna Adkins het in 2008, ’n jaar nadat hy gesê het hy fokus op sy loopbaan, aan Huisgenoot vertel dis aan Oscar se oorlede ma, Sheila, te danke dat sy hom ken. “My ma en Oscar s’n het mekaar geken,” het sy gesê. “Dis hoe ons mekaar ontmoet het. Dis soos ’n feëverhaal.”

Die lemnaeler het in 2009 met die model Melissa Rom uitgegaan. Haar vriendin Cassidy Taylor-Memmory het vertel Oscar en Melissa het rusie gemaak by sy huis in die Silver Woods-landgoed in die ooste van Pretoria, en toe jaag hy haar en haar vriende glo met “vulgêre taal” daar weg.

Samantha Taylor en Oscar het in 2011 begin uitgaan. Hul verhouding het 18 maande geduur. Sy was woedend nadat die atleet met Reeva begin uitgaan het en het gesê “sy is waarskynlik nie die enigste een” wat hy sien nie. Haar ma, Trish, het ná Reeva se dood op Facebook gesê sy is bly haar dogter is “uit daardie man se kloue. Dinge kon ’n paar keer in hul verhouding skeefgeloop het met haar en sy vuurwapen.”

Oscar en Reeva Steenkamp het sowat vier maande uitgegaan voor hy haar op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in die Silver Woods-landgoed doodgeskiet het.

Hy gaan nou glo uit met die paramedikus Leah Malan (19), wat hy verlede jaar in Mosambiek ontmoet het. As dit waar is, is Leah die enigste donkerkop tot dusver wat sy hart kon wen.