Die aanklaer, Gerrie Nel, het Ivan Lin se verslag oor omringende geraas die oggend toe Oscar sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria doodskiet.

Gerrie het Ivan gevra wanneer die verslag opgestel is. Ivan het gesê hy het “meer as ’n week gelede” daaraan begin werk en het dit “êrens in verlede week” voltooi.

“Toe jy verlede week die toneel besoek, was dit meer as ’n jaar later. Bome het gegroei, huis is gebou. Hoe het jy (die scenario) geken?” het Gerrie gevra.

Ivan het geantwoord: “Daar was nie ’n scenario aan my gestel nie; ek moes verskillende moontlikhede ondersoek.”

Hy het nie toegang gehad tot Michelle Burger se huis nie, wat 177 m van Oscar s’n is.

Michelle, die staat se eerste getuie, het die hof in Maart vertel sy het daardie oggend bloedstollende gille gevolg deur vier skote gehoor.

Sy het gesê sy en haar man het in die vroeë oggendure wakker geskrik van ’n vrou se gille.

Gerrie het Ivan gevra of dit akkuraat bepaal kan word of dit ’n man of vrou se gille was. Hy het geantwoord dit rus alles op die luisteraar se waarneming.

“Niemand kan sê alle waarneming is betroubaar nie.”

Die Paralimpiese atleet staan tereg weens moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet het.

Sy is en die heup, arm en kop getref. Nadat hy die skote afgevuur het, het hy ’n krieketkolf gebruik om die deur oop te breek om by die noodlottig gewonde Reeva uit te kom.

Hy beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Oscar staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Die staat voer aan hy het haar tydens ’n rusie geskiet.